MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyftigjarige man is Sondag van 'n gewisse dood gered danksy die vinnige optrede van Mosselbaaiers by die Punt.
Chad Henning (50), 'n inwoner van Woodstock in Kaapstad en sy vriend vanuit Australië, Andy Foote (49) het op Sondag, 26 November by die Punt op 'n rubberboot gery en geduik om vis te skiet.
Andy was in die water en Chad het die rubberboot bestuur. 'n Brander het die boot skuins getref en Chad het in die water beland.
Die boot se stuurwiel het gesluit en die boot het in sirkels begin draai. Volgens Chad het hy probeer om weer in die boot te klim, maar kon hy nie sy lyf bo-oor die boot getrek kry nie.
"Ek het onder die boot beland en die rotor het my linkerbeen getref. Ek het besef ek moet na die kant toe swem en het vir mense wat op die rotse gestaan het gewys om my te help," sê Chad.
Lourens Smit (NSRI), Corné Schabort en Nicole Swart by Chad Henning langs sy hospitaalbed.
Vroue verleen hulp
Intussen het twee Mosselbaaiers wat op verskillende plekke by die Punt was, gesien Chad is in die moeilikheid.
Elouis Janse van Rensburg (36) en Nicole Swart (27) het Chad van die boot sien val.
Elouis sê sy was saam met vriende by die Punt om roomys te koop en het vir dolfyne in die golwe gekyk toe sy Chad in die water sien.
Terselfdertyd het Nicole foto's van die see geneem en óók gesien dat Chad in die water beland.
Elouis en Nicole het in Chad se rigting na die rotse gehardloop. "Gelukkig het ek twee hemde aangehad en toe Chad nader aan die rotse kom het ons dadelik gesien dat sy been lelike snymerke opgedoen het. Ek het my hemp uitgetrek om die wonde mee te verbind," sê Elouis.
Elouis Janse van Rensburg het haar een hemp uitgetrek om Chad se wond te verbind.
Nicole het die NSRI gekontak en kort daarna het nog twee inwoners, Ross en Corné Schabort saam met Elouis en Nicole vir Chad opgelig en hom na platter rotse gedra.
Omstanders het handoeke gebring en het ook hand bygesit om Chad gemaklik te maak totdat die ambulans opgedaag het.
Beide die motors van die boot is eers deur lede van die NSRI afgehaal om sodoende die boot makliker oor die rotse na die land te dra. Foto: Tersia Marais
Chad is in die Life Bay View-hospitaal opgeneem en word eers na verwagting teen 2 Desember ontslaan. Vanuit sy hospitaalbed het Chad aan die Mossel Bay Advertiser gesê dokters pas infeksiebeheer toe en het nie sy wond toegewerk nie, "omdat daar net 'n gat is".
"Ek is baie gelukkig dat 'n hoofslagaar nie getref is nie, anders was ek nie vandag hier nie."
Chad sê die hulpvaardigheid van almal wat hom ondersteun het, is ongelooflik. "Baie mense het gehelp. Ek is dankbaar vir al die gebede en dat God my gespaar het."
Chad Henning (links) saam met 'n vriend met vis wat hulle tydens 'n vorige geleentheid gevang het.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'