MOSSELBAAI NUUS - Stasiebevelvoerder van Da Gamaskop-polisiestasie, kolonel Mark Hartzenburg het onlangs sy gelukwensing oorgedra aan Ansie Phillipson vir haar getroue diens in die Suid-Afrikaans-polisie die afgelope 40 jaar.
Phillipson is verbonde aan die menslike hulpbron-kantoor en het dié mylpaal op 29 Mei bereik.
Phillipson het op 30 November, 1979 op Mosselbaai gematrikuleer aan Punt Hoërskool.
Sy het in 1980 by die SAPD aangesluit as tikster en administratiewe klerk. Daarna is Phillipson na Vereeniging se veiligheidstak oorgeplaas en het onder meer in 1996 in die areakantoor van Vaalrand gewerk.
Sy het egter in Mei, 2003 na Mosselbaai teruggekeer en het eers 'n draai gemaak by die Mosselbaai-polisiestasie voor sy na Da Gamaskop is waar sy later na vlak 7 as hoofpersoneel-beampte bevorder is.
Phillipson is in Zimbabwe gebore en het na Suid-Afrika getrek in 1961. Sy beskryf haar ouers, Louis en Maria Zietsman as haar rolmodelle en beskryf haar loopbaan in die polisiediens as "genotvol". Phillipson is lief vir die natuur en leef graag haar Christenskap uit. "Ek glo om te leef en te laat leef."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'