MOSSELBAAI NUUS - Die land is geruk deur die koelbloedige moord op 'n jong paartjie, Johanco Fleischman (19) en sy meisie, Jessica Kuhn (21).
Hulle is op Sondag, 26 Mei omstreeks 12:00 in Benoni langs die pad vermoor.
Veertien skote is op die paartjie by die N12-Putfonteinweg-wisselaar afgevuur kort nadat hulle Toyota-dubbelkajuitbakkie waarin ook twee van hul werkers was, sonder brandstof gaan staan het.
Fleischman se pa, Rehard Sutterland (46) woon op Mosselbaai en werk as 'n assistent-bestuurder by Hyper Meat & Veg in Voorbaai. Sutterland het kort ná die voorval na Benoni vertrek om sy familie en sy eksvrou, Marika Fleischman asook sy dogter, Wilmari Ras by te staan. Hy was steeds geskok toe die Mossel Bay Advertiser gedurende die week met hom kontak gemaak het. "Ons land is verlore. Ek is stukkend," het 'n emosionele Sutterland gesê.
Johanco en Jessica het op 'n varkplaas gewerk en het kort voor die moord 'n oom gebel om vir hulle diesel te bring. Die twee plaaswerkers het op 'n reling langs die pad gesit toe die drie aanvallers aangestap kom. Jessica is in die bakkie geskiet en Johanco buite die bakkie terwyl hy vermoedelik besig was om met haar te gesels. Skote is ook op die brandstoftenk afgevuur, vermoedelik om die bakkie te laat aan die brand slaan. Een van die werkers het daarna 8km ver gehardloop om by Johanco se oom, wat op 'n nabygeleë kleinhoewe bly, hulp te kry. Die ander werker is deur aanvallers deur die verkeer gejaag. Daar is vanuit 'n ander rigting op hom geskiet vermoedelik deur 'n vierde aanvaller.
Aanval vermoedelik oor goudstof
'n Spesiale Gautengse polisieondersoekspan is ontplooi om die moord te ondersoek. Mike Bolhuis, deskundige ondersoeker se span is ook deur die familie aangestel om die polisie te help om die moordenaars te vang. Vince Harris, 'n voormalige luitenant-kolonel in die polisie wat deel van Bolhuis se span is, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hulle twyfel sterk dat die motief roof was. "Johanco en Jessica se juwele is nie gesteel nie. Net die een werker se selfoon, asook die paartjie s'n."
Die vermoede bestaan dat die paartjie op die "verkeerde plek op die verkeerde tyd " was.
Hulle is vermoedelik vermoor omdat sindikaatwerkers gedink het hulle wil skelm goudstof van die onwettige myners langs die pad koop. "Ons is betreklik seker dit was nie 'n haatmoord of rasverwante voorval nie. Ook dat dit moontlik handlangers van sindikaatleiers was."
Volgens Harris vermoed hulle dat dit 'n moordbende is wat gedink het die vier mense is goudkopers en 'n bedreiging vir hulle."Ons is vertel dat, baie keer met 'n bakkie, langs die pad stop en die goudstof direk by die mynwerkers koop. Daar is geweldige mededinging onder die onwettige mynwerkers en die bendeleiers. So die kringleiers het 'n hit squad wat die gebied dophou en die goudstof en die werkers beskerm."
Sutterland sê Johanco was 'n rustige kind. Hy was mal oor visvang en was lief vir die plaaslewe." Hy sê al wat hy na dese vir mense kan sê is om tyd saam met jou kinders te spandeer. "Die tyd gaan so vinnig verby en alles voel vir my nog so onwerklik."
Die gedenkdiens van Johanco vind vandag Vrydag, 31 Mei, om 12:00 vanuit die NG Kemptonpark Oos-gemeente plaas.
Die toneel op die besige N12 waar die paartjie doodgeskiet is.
Jessica Kuhn.
Johanco Fleischman.
Mosselbaaier, Rehard Sutterland se seun is koelbloedig doodgeskiet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'