MOSSELBAAI NUUS - Edinia Citwa van Mosselbaai is die eerste kunstenaar uit die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram van 2024 wat met behulp van Crescendo Musiek haar debuutalbum, Gebore om te wen, op 4 Julie saam met die sangeres Nádine by die Daisy Jones-teater net buite Stellenbosch bekendstel.
Die titelsnit vorm die kern van die album, wat vyf oorspronklike liedjies uit die pen van hierdie ma van drie seuns bevat.
Citwa sê sy het nooit in Afrikaans geskryf nie tot sy met die hulp van haar seun, Lonwabo (15), se rekenaarsagteware Gebore om te wen vir ATKV-Crescendo ingestuur het.
"Die ontdekking dat ek in my moedertaal kan skryf het my die vryheid gegee om my waarheid, my storie, eg en eerlik oor te dra."
Die produksie van Gebore om te wen is deur Jean-Marc Meyer, in samewerking met Crescendo Musiek, hanteer.
Citwa sê sy kan nie wag vir die bekendstellingskonsert nie. Nie net gaan haar kinders haar vir die eerste keer lewendig sien optree nie, maar sy kry ook die kans om die verhoog met een van haar gunstelingsangeresse, Nádine, te deel.
"Ek moes vir haar 'n video maak om te vra of sy as gaskunstenaar daardie aand saam met my sal optree. Sy het nie eers lank gevat om in te stem nie. Dit is so spesiaal om hierdie hoogtepunt in my lewe met haar te kan deel."
Die produksie van Gebore om te wen is deur Jean-Marc Meyer, in samewerking met Crescendo Musiek, hanteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’