MOSSELBAAI NUUS - Terwyl die wêreld se oë gevestig is op wat Rusland se volgende skuif in Oekraïne sal wees, is daar Mosselbaaiers, hoewel duisende kilometer weg van die konflik, wat eweneens deel van hierdie oorlog is.
De Villiers Venter het sy vrou, Natalia uit hul vorige tuiste in Mpumalanga na Mosselbaai gebring spesifiek om in 'n veiliger omgewing te vestig. Nou, skaars twee jaar nadat hulle getroud is, skuil sy in 'n klein dorpie naby die grens van Pole.
Natalia het in Maart verlede jaar in haar tuisland gaan kuier omdat sy te veel na haar familie verlang het. In Augustus keer sy terug na Suid-Afrika, maar moes in November weer in Kiëf wees om haar papierwerk af te handel.
De Villiers sou oor die feestyd by haar aansluit, maar die uitbreek van die Omnicron-variant van die Covid-19-virus het hom verhoed.
Aangesien Natalia se familie, onder andere haar kleinseun wat in Februarie verjaar het, nog in Oekraïne is, het die Venters besluit dat sy in die land sou bly ten spyte van groeiende kommer oor die Russiese president Wladimir Poetin se uitsprake.
"Natalia was die Sondag voor Rusland aangeval het nog by 'n kosmark in Kiëf se middestad. Dis 'n pragtige, veilige stad. Sy het koffie gedrink en iets geëet. Die lewe was normaal," het De Villiers vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser vertel.
'War has started'
Verlede Donderdag, 24 Februarie toe Russiese magte die Oekraïne binneval, bel Natalia haar man omstreeks 05:30.
"Dit was vir my vreemd, want sy bel gewoonlik so 08:00. Al wat sy gesê het toe ek antwoord is 'I think it has started'. Ek was heeltemal uit die veld geslaan en het nie geweet waarvan sy praat nie. Toe ek vra wat sy bedoel antwoord sy, 'I think the war has started'," vertel De Villiers. Natalia het die oggend wakker geword tydens die bombardement van Kiëf.
"Sy het gesê die 'boom, boom' van ontploffings het haar wakkergemaak en die hele lug was rooi."
Natalia het dieselfde dag nog saam met haar suster, wat toevallig kom kuier het, uit haar woonstel gevlug. Hulle moes hulle pad na 'n bomskuiling vind. Verlede naweek was sy in Irpin, na aan waar gevegte uitgebreek het.
"Saterdagoggend toe ek met haar praat, kon ek hoor hoe bomme afgevuur word en ontplof."
De Villiers is op verskeie evakuasiegroepe wat voortdurend inligting stuur. Hy volg ook nuusgroepe regstreeks om op hoogte van sake te bly. Natalia stuur boodskappe soos sy kan.
Kommunikasie
"My grootste vrees is dat sy nie meer met my kan kommunikeer nie. Ek bly vir haar sê ek moet weet waar sy is, want waar begin ek soek na haar as iets gebeur?"
Vanweë haar sterk familiebande, wil Natalia nie tans Oekraïne verlaat nie. Haar seun, skoondogter en kleinseun is tans nog slegter daaraan toe, aldus De Villiers.
"Hulle is in 'n dorpie naby Chernihiv. Hulle is nie bewapen nie. Die weermag het wel 'n paar anti-tenkmyne rondom die dorpie geplant."
Hy lees 'n boodskap van sy skoonseun: "There are strong rocket explosions. They are bombing sleeping areas. We have no products. The situation is terrible."
De Villiers verduidelik dat sleeping areas na woonbuurte verwys. Hy het ook 'n video aan die Advertiser gewys wat hy van Natalia ontvang het wat toon dat 'n koswinkel wat sy besoek het se yskaste en rakke dolleeg is.
"Die ondenkbare het gebeur. Die mense van Oekraïne is warm, trots en familievas. Hulle kan verskriklik saamstaan. Ek slaap nie. Die kommer vreet my op. Kom ek wys jou, waar sy is," beduie hy op sy selfoon.
"Dis 9 200km ver van hier af. Al wat ek kan vra, is voorbidding."
'Ons bring jou die nuuste Mosselbaai, Tuinroete nuus'