MOSSELBAAI NUUS - Tydens die laaste Suid-Kaap Sagesbyeenkoms van die jaar ding die spelers mee om die Bertus Louw-trofee en die persoon wat met die trofee wegstap, is die nie-amptelike individuele kampioen van die jaar.
Dié eer kom in hierdie vreemde jaar die Mosselbaaier, Kwartus Sieberhagen, toe. Hy het op Dinsdag, 1 Desember loshande voor geëindig toe 46 spelers op Riversdal saamgetrek het om mekaar die stryd aan te sê in 'n individuele Stablefordkompetisie.
Michele Sharwood en haar helpers, Estie en Katie het die spelers is op 'n heerlike ontbyt by die Riversdal-gholfklub trakteer. Riversdal se gholfbaan is in 'n pragtige toestand en Nel Mulder en sy span moet voorwaar krediet kry vir hul harde werk om die baan voor te berei.
Die volgende spelers het die beste gevaar:
1. Kwartus Sieberhagen 40 (Mosselbaai en nuwe houer van die Bertus Louw-trofee); 2. Nel Mulder (Riversdal) 38; 3. Grové Koch (Riversdal) 38; 4. Rodney Page (Stilbaai) 37; 5. Bennie Pieterse (Mosselbaai) 37; 6. Celia Hart (Stilbaai) 35; 7. Pinoc Jacobs (Stilbaai) 35; 8. Denzil Geldenhuys (Riversdal) 35.
Naaste aan die penne, soos altyd geborg deur JC Slagtery van Riversdal, is deur Cassie Swanepoel van Boggomsbaai op nommer 8 en Mariaan Loots van Mosselbaai op 4/13 gewen. Spogtwees is deur Denzil Geldenhuys en Grové Koch van Riversdal en Wessel de Bruyn van Stilbaai behaal.
By dieselfde geleentheid het die Suid-Kaap Sages ook hul algemene jaarvergadering gehou en is nog 'n Mosselbaaier, Nic Marais tot die nuwe voorsitter verkies. Grové Koch, wat vir vier jaar die leiding geneem het is die nuwe ondervoorsitter.
In sy laaste voorsittersverslag het Koch die spelers bedank vir hul goeie bywoning van die Sagessaamtrekke en ook die ruimhartige bydrae wat hulle elke jaar tot Kansa maak.
Selfs in hierdie Covid-jaar het die Suid-Kaap nog steeds daarin geslaag om R8 300 vir Kansa in te samel. Nog 'n hoogtepunt in 2020 was die goeie oorwinning wat Suid-Kaap voor Covid oor Outeniekwa behaal het met die Stigtersbekerkompetisie.
In November het die Suid-Kaap Sages ook 'n skenking van R3 000 gemaak aan die Erfenisfonds op Vleesbaai. Die Erfenisfonds is gestig na die dood van Nelson Mandela en het as doel om behoeftige gesinne by te staan.
2020 was natuurlik by uitstek 'n jaar wat hom daartoe geleen het as gevolg van Covid-19 met baie families wat swaargetrek het toe werksgeleenthede opgedroog het. Hulle kon dus, ook met die hulp van baie huiseienaars op Vleesbaai, families dwarsdeur die groot impaktyd van die pandemie bystaan om kos en komberse te kry.
Die Sagesprogram vir 2021 is klaar opgestel en daar word op 19 Januarie afgeskop met 'n 4BBB-kompetisie op Riversdal.
Wenners op Riversdal is van links: Rodney Page, Grové Koch, Kwartus Sieberhagen en Nel Mulder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'