MOSSELBAAI NUUS - 'n Trotse Mosselbaaier, ook bekend vir sy gereelde betrokkenheid by plaaslike gemeenskapsprojekte. Curt Baker het 'n spogposisie losgeslaan by 'n gewilde vrouetydskrif met sy aantstelling as handelsmerkbestuurder van Kuier.
Curt het verlede week met die Mossel Bay Advertiser gesels oor sy nuwe posisie.
"Ek kom vanuit 'n baie nederige omgewing, Uitbreiding 8. 'Agter die plate', soos mense dit sal noem."
Sy ma het hom alleen grootgemaak, na sy pa, John Frans, 'n opvoeder aan Hoërskool Sao Bras, oorlede is. Curt het gematrikuleer aan dieselfde skool, waar hy lid van die leerlingraad en ook 'n aktiewe lid van die Rotary Interact-klub was. 'n Opvoeder aan die skool het gesê dat Curt se liefde vir gemeenskapswerk reeds tydens sy skooldae ooglopend was.
In 2002 ontvang Curt sy nasionale diploma in bemarking aan die Kaapstadse Universiteit van Tegnologie. Hy ontvang in 2003 'n volle berus van die Thabo Mbeki Crossroads Education Fund, wat alle onkostes vir die res van sy studietydperk gedek het.
"My beste herinneringe aan my skooldae, is aan my onderwysers wat alles ingesit het en my as 'n mens gevorm het. Daarvoor sê ek dankie, want ons weet nooit waarnatoe die lewe ons lei nie. Leiding op skool is so belangrik. Ek koester dit nog my lewe lank." Curt moedig alle Mosselbaaise jongmense aan om selfdissipline aan die dag te lê en seker te maak dat hulle hul skoolloopbane voltooi.
"Kry iets waarvan jy hou en maak dit jou beroep."
Curt en Yolandi Duthie is al die afgelope 11 jaar betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte. Hy sê dit is sy wye ondervinding in die verkoopswêreld, bemarking en as geleentheidsbestuurder wat hom voorberei het op die nuwe pos wat hy vanaf 1 September sal beklee.
"Kuier is die grootste Vrouetydskrif in SA en is 'n lekkerleestydskrif propvol inspirasiestories en resepte wat almal geniet. Dit word tweeweekliks uitgegee en baie van Mosselbaaiers het al daarin verskyn."
Curt se nuwe pos sluit in om borgskappe vir funksies te kry en bemarkingsgeleenthede te skep. En natuurlik, om funksies by te woon.
"Ek is mal daaroor om funksies by te woon. Dit bied groot verskeidenheid van komedievertonings tot kos- en wynfeeste. Ek beskryf myself as 'n active traveller wat hou daarvan om te reis en nuwe plekke te ontdek. Maar die heel meeste, sien ek daarna uit om 'n stukkie van Mosselbaai saam met my na Kuier te neem."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'