MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner op Mosselbaai, Anne-Marie Saffi (36) wat 'n passie het vir vroeë kinderontwikkeling, is onlangs as klubafrigter van die jaar vir die gemeenskapsprojek genaamd, SmartStart aangewys.
Saffi woon sedert haar kinderjare op Mosselbaai en het deel van die projek geraak in 2015.
Die NG Kerk in die Wes-Kaap is aangewys as 'n vennoot van SmartStart – 'n nie-regeringsorganisasie met 'n groot droom om 'n verskil in Suid-Afrika te maak deur vroeë kinderontwikkeling. Volgens ds Leon Venter, predikant van die diensgroep Diaconia in Wes-Kaapland, is SmartStart gerig op kinders wie se ouers nie kan bekostig om hulle na 'n kleuterskool te stuur nie. SmartStart werk op 'n "sosiale franchise-beginsel" wat beteken hulle wil duisende vroue oplei en ondersteun om hulle eie klein mikro-besigheid te begin deur met drie- tot vierjariges te werk, sê Leon. SmartStart bied vir vroue en hulle franchisors gratis opleiding, speelgoed, leerdermateriaal, hulpbronne, inhoud-werkswinkels vir ouers, 'n daaglikse program, ondersteuning en lisensiëring volgens SmartStart se stelsel, verduidelik hy. Volgens Venter help Diaconia gemeentes om by SmartStart betrokke te raak.
Saffi sien om na die SmartStart op Mosselbaai, Heidelberg en Riversdal waarvan tussen 300-500 kinders deel is.
Tans is daar landwyd al 32 195 kinders in die program, waarvan 2 646 uit die Wes-Kaap is.
Saffi sê sy sien 'n groot verandering in kinders wat voorbereid skooltoe gaan. "Dikwels weet hulle ouers nie hoe belangrik dit regtig is nie. Dit is belonend om te sien hoe die kinders ontwikkel."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'