MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se ontsoutingsaanleg, die grootste in Suid-Afrika, sal binnekort tydens ‘n uitsending op die televisiekanaal eTV weer in die nuus wees.
Mosselbaai munisipaliteit se direkteur van tegniese dienste, mnr Dick Naidoo, het vangoggend die onderhoudsvoerder, Percivale Young en ‘n kameraman by die ontsoutingsaanleg te woord gestaan.
Mosselbaai se ontsoutingsaanleg is teen ‘n koste van R210 miljoen opgerig en is gesamentlik befonds deur die Nasionale Tesourie en PetroSA wat onderskeidelik R92 miljoen en R80 miljoen bygedra het tot die totale projekkoste.
Die aanleg het in September 2011 die eerste vars water gelewer toe Mosselbaai die ergste droogte in 130 jaar in beleef het, juis om watersekerheid vir die groter munisipale area te verseker.
Op daardie stadium was die Eden distrik as rampgebied verklaar.
Percivale Young, ‘n onderhoudsvoerder vir die TV nuuskanaal e-TV, voer ‘n onderhoud met Mosselbaai munisipaliteit se direkteur van tegniese dienste, mnr Dick Naidoo, oor die grootste ontsoutingsaanleg in Suid-Afrika wat in Mosselbaai geleë is.
Die aanleg is nie tans in gebruik nie, juis vanweë die hoë koste verbonde aan die bedryf daarvan, maar kan binne ‘n ommesientjie in bedryf gestel word indien nodig. Die aanleg beskik oor die vermoë om in die totale waterverbruiksvereistes van die dorp te voorsien.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'