MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-gemeenskap rou oor die afsterwe van Jasper Christoffel van der Linde (56), ’n bekende en geliefde inwoner wat vir 33 jaar as verkeersbeampte by die Mosselbaai-munisipaliteit gedien het.
Sy eggenote, Thea, is ook goed in die gemeenskap bekend vir haar 13 jaar se betrokkenheid by die Laerskool Park-snoepie.
Die munisipaliteit het die afgelope week Jasper se afsterwe met diepe hartseer aangekondig en hom as ’n lojale en hoogs gerespekteerde werknemer beskryf, wat oor drie dekades ’n onmisbare rol in die verkeersafdeling gespeel het.
Volgens die munisipaliteit het hy met groot toewyding in die spoedwetstoepassingspan gewerk en ook ’n belangrike administratiewe rol vervul.
“Sy betroubaarheid, sterk werksetiek en bereidwilligheid om altyd die ekstra myl te stap het hom ’n steunpilaar van die afdeling gemaak,” lui die verklaring.
Jasper en Thea was op 11 April onderweg na Kaapstad toe hulle in ’n ernstige motorbotsing op die N2 naby Buffeljagsrivier betrokke was.
Volgens die familie het die egpaar die vorige dag ’n splinternuwe VW Polo gekoop en wou hulle hul seun, Arno, in Kaapstad gaan verras het.
“Met groot opgewondenheid het ons vroeg die oggend in die pad geval,” sê Thea. “Net voor Buffeljagsrivier het ’n voertuig in ons baan oorbeweeg en ons motor getref. Ons voertuig het gerol.”
Jasper het ernstige nekbeserings opgedoen nadat sy nekwerwels van C3 tot C7 gebreek is.
Hy is aanvanklik by Mediclinic George behandel voordat hy later na die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad vir verdere sorg en rehabilitasie oorgeplaas is.
Komplikasies het egter ingetree, en hy is op Sondag 10 Mei oorlede.
Hy word onthou as ’n man wat lief was vir braai, musiek en veral sy familie.
“Jasper was ’n groot man met ’n baie klein hartjie, saggeaard, liefdevol en iemand wat nooit gehuiwer het om ander te help nie,” sê Thea.
Die Van der Linde gesin: Arno, Jasper, Leandri, Thea en Marzaan. Foto: Verskaf
Sy sê hy was besonders trots op sy kinders, Arno, Leandri en Marzaan, en het volgens sy geliefdes nooit hul sportbyeenkomste, prestasies of spesiale geleenthede gemis nie.
Jasper en Thea was 33 jaar saam en het in 1990 van Bultfontein na Mosselbaai verhuis.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se hoof van verkeer en wetstoepassing, Henry Williamson, wat ook ’n vriend en kollega van 18 jaar was, sê Jasper se ondersteuning en menslikheid sal lank onthou word.
“Sedert my indiensneming in 2008 was ek en Jasper kollegas en vriende. Ek sal hom altyd onthou as ’n toegewyde kollega wat altyd bereidwillig was om hulp te verleen. Elke kollega in die afdeling kan getuig dat Jasper altyd beskikbaar was om ondersteuning en hulp te bied waar nodig,” sê Williamson.
Die familie bedank die gemeenskap vir hul gebede, ondersteuning en bydraes tot Jasper se BackaBuddy-veldtog vir sy hospitaalkostes.
“Ons gesin se harte is ongelooflik seer, en alles voel nog so onwerklik. Jasper laat ’n groot leemte in baie Mosselbaaiers se harte.”
’n Munisipale gedenkdiens sal Vrydag, 22 Mei om 14:00 by die Mosselbaai-stadsaal gehou word. Lede van die gemeenskap, kollegas en vriende word uitgenooi om die diens by te woon.
’n Privaat begrafnisdiens vir familie en naasbestaandes sal Saterdag, 23 Mei, om 11:00 by die NG Kerk Mosselbaai-Suid (hoek van 15de en 17de Laan) plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’