MOSSELBAAI NUUS - Verskeie inwoners het hul kommer oor die toestand van Mosselbaai se poskantoor uitgespreek.
Klagtes oor die poskantoor sluit in gebreekte vensters en vuil vloere.
Die Mossel Bay Advertiser het die perseel besoek.
Verskeie vensters is gebreek en die vloere sowel as die mure is vuil.
Die poskantoor word deur die staat besit en die plaaslike munisipaliteit is dus nie verantwoordelik vir die instandhouding van die gebou nie.
Woordvoerder van die besigheidsreddingspraktisyns vir die Suid-Afrikaanse Poskantoor, Louise Brugman, sê die Mosselbaai-poskantoor is steeds in gebruik. Brugman sê dit is 'n jammerte dat meeste poskantore agteruitgaan, en dat die hoofrede kontantvloei-beperkings is.
Volgens Brugman, is die Mosselbaai-poskantoor reeds sedert 2023 in sakeredding. Sy het bevestig twee mense is tans werksaam in die Mosselbaai-poskantoor.
Sy sê weens die kontantvloei-beperkings is daar geen planne in plek om nóg mense in diens te neem nie.
"Kontantreserwes bly 'n probleem en ons moet prioritiseer waaraan ons geld bestee," sê Brugman.
Mosselbaai het 'n ryk geskiedenis as dit by poskantore kom. Die Poskantoorboom is 'n bekende melkhoutboom, wat deur Portugese ontdekkingsreisigers as 'n poskantoor gebruik is.
Die boom, wat na raming meer as 500 jaar oud is, was glo die land se heel eerste posbus, en is op die terrein van die Bartholomeu Dias-museumkompleks op Mosselbaai geleë.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’