Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Die Mosselbaai Paradise Crusaders Christmas Band, onder leiding van Greg Taylor, het onlangs tydens die nasionale Jeugdagvieringe op Potchefstroom opgetree.
Cornelius Jacobs, 'n lid van die ondersteuningspan, sê die kinders het hierdie uitstappie terdeë geniet - volgens hom was dit die beste optrede wat die groep nóg gehad het.
Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, het hulle by die geleentheid verwelkom en mense soos Taylor vir die verskil wat hulle in gemeenskappe maak, bedank. Die geleentheid is ook op SABC News uitgesaai.
Taylor het die groep in Februarie verlede jaar gestig. Hy en meeste van die kinders wat deel van die groep vorm woon in Die Gaatjie in Jansenstraat, Uitbreiding 8.
Die jongste lid van die orkes is slegs vier jaar oud, vertel Jacobs. "Hy het gekom en kom kyk wat die groter kinders doen en sien toe hulle kap die drommetjies. Wat hy toe agterna gaan doen het is om 'n drom op die straat se hoek te vat, 'n groot plastiekdrom, en stokke, toe begin't hy kap.
"Oom Greg het agtergekom dat hy wel op die beat wat hulle kap gekap het, en hy het die kind onder sy vlerk gevat."
Oom Greg sê die doel van die stigting van die groep is om kinders van die straat af te kry, weg te hou van dwelms, drankmisbruik en van roof of diefstal, en om hulle in musiek op te lei.
"Dis my passie, dis my liefde, om met kinders te werk. Ek sal alles in die stryd werp om kinders van die straat af te kry. As meer kinders kan aansluit, sal dit my die gelukkigste mens op aarde maak."
Hy het ouers gemaan om ook die orkes te ondersteun en hulle kinders toe te laat om daarby aan te sluit. Die orkes groei nog, en het al 27 lede, sê Jacobs. Dit sluit in die drilafdeling, dromme en trompette.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’