TUINROETE | KAROO NUUS - ‘n Man van Mosselbaai is in die Oudtshoorn-streekhof aan bedrog skuldig bevind en ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê.
William Ubumtuabuko Tyekela (65) van Kwanonqaba, Mosselbaai, het tereggestaan op aanklagte van bedrog en diefstal, maar onskuldig bevind op die aanklag van diefstal.
Tyekela het op 15 November 2013 voorgegee dat hy namens ‘n beslote koöperasie, Siyanda Industrial Painting, ‘n tender ten bedrae van net meer as R314 0000 by die Mosselbaai-munisipaliteit ingedien het en die drie ander lede van die BK daarvan bewus was en toestemming gegee het.
Dit het egter later aan die lig gekom dat die ander lede van die BK nie bewus was van die tender nie.
Die magtiging dat hy namens die drie optree, was vals, en hy het hul handtekeninge vervals. Die munisipaliteit moes die geld in sy rekening inbetaal en hy sou die enigste wees wat daaruit voordeel sou trek.
Die staatsaanklaer, adv. Deolin Williams, het die hof versoek om Tyekela direkte gevangenisstraf op te lê terwyl sy regshulpprokureur vir ‘n boetestraf of opgeskorte vonnis gevra het omdat die munisipaliteit nie enige verliese gelei het nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het vir vonnisoplegging Tyekela se ouderdom, die feit dat die saak reeds lank sloer en hy ook ‘n eerste oortreder is, in ag geneem. Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’