MOSSELBAAI NUUS - Vir die eerste keer in jare het ál die personeel van die Mosselbaai-munisipaliteit vergader vir 'n gesprek met die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé en sy burgemeesterskomitee.
Eerstens is die personeel opreg bedank vir hul uitsonderlike dienslewering.
"Die uitvoerende bestuur het onlangs strategiese beplanning gedoen. Dit was opmerklik dat ons nie een keer oor dienslewering gepraat het nie - bo-gemiddelde dienslewering in ons dorp is 'n gegewe.
"Julle, ons munisipale personeel is die rede waarom Mosselbaai die beste munisipaliteit in die land is. Daarom kon ons eerder op sowat 120 projekte fokus wat daarop gemik is om die lewe vir al ons inwoners te verbeter," het raadsheer Kotzé gesê.
MAD-projek
Tóg het hy die personeel aangemoedig om sy MAD-projek te ondersteun.
"MAD, oftewel die Make A Difference-projek wil juis 'n verandering in mense se lewens te maak deur alles wat ons as munisipaliteit doen. Julle doen dit reeds, maar ek wil dit benadruk dat hierdie organisasie van ander onderskei word juis weens die respek waarmee elkeen wat aan die Mosselbaai-munisipaliteit betrokke is, ons inwoners hanteer.
"As regeringsinstansie maak elke werknemer van die munisipaliteit 'n verskil in die lewens van ons gemeenskap - dis ons plig om seker te maak dat elke interaksie met die publiek 'n positiewe verskil maak.
"Die MAD-projek komplementeer ook die hersiening van ons korporatiewe identiteit, wat nie net sal steun op 'n bygewerkte logo nie, maar ook op die opgeskerpte diens-ingesteldheid van almal wat by die organisasie betrokke is.
"Die huidige tydsgees in ons land is omgekrap, mense is kwaad en uiters krities teenoor alle vorme van regering. Mosselbaai-munisipaliteit as organisasie bied die verskil - daarom is ons dorp reeds aangewys as die voorkeurkeuse vir mense wat van elders hul hier vestig.
"Alles wat ons as organisasie doen, moet daarom die positiewe van ons dorp bemark en daarop gemik wees om 'n positiewe verskil in mense se lewens te maak.
"Ek sê weer eens dankie vir elke personeellid se positiewe ingesteldheid. Mosselbaai-munisipaliteit is nie maar net nog 'n regeringsinstansie nie. Mense kies om in Mosselbaai te vestig omdat hier voorkeurdienslewering is, hulle kom soek hiér na 'n beter lewe.
"Daarom het ons nuwe munisipale leierskap 'n GROW-strategie geloods wat fokus op effektiewe plaaslike regering, ekonomiese ontwikkeling, veiligheid, sosiale opheffing en 'n gesonde omgewing.
"My uitdaging aan almal is dat ons as personeel en gemeenskap sal saamwerk om ons dorp 'n baken van hoop te maak en 'n verskil in mense se lewens te verseker, aldus raadsheer Kotzé."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'