MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-hawe het opwindende planne vir die toekoms, wat verdere uitbreidings insluit.
Die uiteindelike doelwit is om 'n "herbedinkte hawe-uitleg" te skep, wat spesifiek fokus op aspekte soos ontspanningsaktiwiteite vir toeriste op Mosselbaai, en om die hawe meer omgewingsvolhoubaar te maak.
Die besonderhede is bespreek tydens 'n vergadering wat op 30 Oktober by Transnet se Mosselbaai-kantoor gehou is.
Volgens die Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA) van Mosselbaai, is daar planne in plek om 'n nuwe fasiliteit te installeer om groter vaartuie by die hawe te akkommodeer.
Vaartuie sal ook beskerm word om nie die omliggende strandomgewing negatief te beïnvloed nie.
Verouderende infrastruktuur moet ook in die volgende twee jaar opgegradeer word. 'n Onthaalfasiliteit is in aanbou om internasionale vaartuie in staat te stel om die hawe aan te doen.
Ondanks geringe vertragings, word dit geprojekteer dat dit vroeg volgende jaar voltooi sal word.
Kaptein Sandile Gabeshe, wat die toer deur die hawe lei. Foto: Gabriélla Siebritz
Tans is daar 'n tydelike fasiliteit in gebruik terwyl konstruksie nog aan die gang is. Toerskip-seisoen begin binnekort, wanneer vaartuie Mosselbaai sal aandoen.
Die eerste vaartuig sal na verwagting reeds op 11 November anker gooi. Dié seisoen begin gewoonlik in November en duur tot Mei van die volgende jaar.
Vergaderinggangers het ook 'n toer deur die hawe geneem, waar kaptein Sandile Gebashe die groep na die Artic Tern-boot gelei het, wat die hawe beplan om te laat herleef.
Dié boot, wat in 1998 gebou is, ondergaan enjinonderhoud, sowel as opknapping. Volgens kaptein Gabeshe, sal twee nuwe enjins in die boot geplaas word, wat sal toelaat dat dit "weer lewend gemaak kan word".
'n Tweede boot, bekend as Snipe, word ook opgeknap. Die finale afsluiting van die hawe se uitbreiding is vasgestel vir 2030, en bestaan uit vier of vyf fases.
Elke fase neem een jaar om te voltooi.
Tans is die hawe in fase twee. Die projek as geheel kos net meer as R1 miljard. Daar is sorgvuldig vir elke fase begroot.
Die tweede boot, Snipe. Foto: Gabriélla Siebritz
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’