MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-boksers het by die Suid-Afrikaanse Nasionale Boksorganisasie (Sanabo) se Nasionale Bokskampioenskappe vir goud geveg.
Die Nasionale Bokskampioenskappe het op 24 tot 28 September in Tzaneng Mall in Tzaneen, Limpopo, vir kadette en juniors plaasgevind. Kadette is tussen 12- en 14-jaar-oud, terwyl juniors tussen 15- en 16-jaar-oud is.
Deelnemers is verteenwoordigers van Suid-Afrika se nege provinsies en boks in verskeie afdelings wat elk om goud veg. Elke provinsie het in groepfases, kwarteindronde, halfeindronde en uiteindelik in die eindstryde geveg.
Onder die Wes-Kaapse span is vyf boksers van die Eden-distrik: vier van Mosselbaai, en een van George.
Van die vyf boksers, is drie lede deel van die Garden Route Boxing Club Academy geleë in Mosselbaai, naamlik Qhamani Madolo, Anenceba Mfeketho en Junior Mbutuma.
Die drie boksers het goue en silwer medaljes in die kompetisie behaal - Qhamani het Wes-Kaapse goud en nasionale goud gewen, en Anenceba en Junior het albei Wes-Kaapse goud en nasionale silwer gewen.
Qhamani Madolo, nasionale goue medaljewenner. Foto: Masimphiwe Qatu
Die boksers se afrigter, Masimphiwe "Masira" Qatu is ongelooflik trots op die span, en het aan die Mossel Bay Advertiser gesê: "Eden Distrik-boksers stel nooit teleur nie. Hierdie boksers het Mosselbaai op die kaart geplaas."
Imange Thethani (15), die bokser van George, was gekroon as die Wes-Kaapse kampioen en derde nasionaal in haar kategorie by die Kampioenskappe uitgetree. Luniko Mamase het silwer gewen, en is deel van die Masibulele Boksklub, 'n nuwe klub geleë in Mosselbaai.
Die span het Sondag, 29 September 'n helde-onthaal ontvang toe hulle van Limpopo by die Mosselbaai Shell-garage teruggekom het.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Boksorganisasie is die beheerliggaam vir boks onder mans en vroue in Suid-Afrika. Die organisasie is geaffilieer by die International Boxing Association, saam met die African Boxing Confederation.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’