MOSSELBAAI NUUS - Spoed was nie altyd een van Binnelandse Sake se kenmerke nie, maar dinge het egter in 'n kort tydjie ten goede verander.
Die 92-jarige Thys le Roux van Reebok het 'n opwindende vakansie saam met sy gesin beplan deur familie in Namibië te besoek.
Dit sou Le Roux se tweede reis na Namibië wees. Die eerste keer was sewe jaar gelede.
Daar was egter 'n probleem: sy paspoort het verval.
Omdat hy nie met die bus wou reis nie, het Le Roux se familie hom oortuig om eerder 'n vlug na Namibië te neem.
Die gesin het op Maandag, 18 November, na die Mosselbaai-tak van dié departement gegaan om aansoek te doen vir die hernuwing van sy paspoort.
Reg van die begin af was die diens, wat die bejaarde Le Roux ontvang het, uitstekend.
"Hulle het hom so mooi gehelp en het ook voorgestel om aansoek te doen vir sy ID-kaart (of Smart ID) terwyl hy besig was met die papierwerk," het Le Roux se kleinseun, Rudolf Botha vir die Mossel Bay Advertiser verduidelik.
Teen 9 Desember het die paspoort nog nie opgedaag nie. Die gesin het angstig begin raak. Die vertrekdatum van Sondag, 15 Desember, het al hoe nader gekom.
"Van toe af het ons elke dag gebel. Vuvu (Mpompi), die een sekuriteitsbeampte by ontvangs, het selfs vir ons haar persoonlike nommer gegee om haar daagliks te kontak," sê Botha.
Die stres en angs is vererger met die nuus dat die pakkie met die nuwe paspoort intussen soek geraak het.
Dis toe dat Sanette du Toit, bestuurder by dié tak, ingespring het. Sy het geen steen onaangeroer gelaat nie en die hoogste moontlike persoon in beheer by hoofkantoor gekontak.
Teen Vrydag, 13 Desember, is die pakkie met die paspoort gelukkig gevind.
"Sanette het uit haar pad gegaan. Sy was selfs bereid om tot 19:00 op kantoor te bly daardie aand, of om die Saterdagoggend in te kom. Teen 16:00 daardie middag, het ek 'n oproep van haar gekry om ons mee te deel die paspoort was in haar hande!" vertel Botha.
Le Roux sou in Mosselbaai moes agterbly as dit nie vir die doeltreffendheid van Mpompi en Du Toit was nie.
Botha sê sy familie is Mpompi, Du Toit en die hele kantoor van die Mosselbaai-tak van binnelandse sake baie dank verskuldig vir die hulp om Oupa Thys in Namibië te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’