MOSSELBAAI NUUS - Die regulering en beheer van voorgeskrewe brande in die meerderheid van die Tuinroete berus nou by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM), behalwe wat die groter Mosselbaai-gebied betref.
Die TDM het gedurende Julie 'n openbare kennisgewing uitgereik wat sê sy brand- en reddingsdienste is nou verantwoordelik vir hierdie funksie in Hessequa, Kannaland, George, Knysna, Bitou en die groter Oudtshoorn.
Hierdie verantwoordelikheid sluit onder meer die uitreiking van permitte vir beheerde brande en die toepassing van die gepaardgaande regulasies in.
Maar hoekom behou Mosselbaai-munisipaliteit hierdie funksie?
In antwoord op 'n navraag van Mossel Bay Advertiser het die munisipaliteit gesê hy verrig hierdie funksie reeds sedert 2007 en sal voortgaan om dit te doen, ingevolge wetlike vereistes. "Oor die jare het die munisipaliteit 'n omvattende databasis van grondeienaars opgebou en sterk werksverhoudings met eiendomseienaars gevestig. Hierdie samewerking dra daartoe by dat grondeienaars oor die algemeen voldoen aan die vereistes van die wetgewing, wat help om brandstofladings en brandgevare te verminder.
"Die munisipaliteit beskik ook oor 'n munisipale hof, waardeur daar opgetree kan word teen oortreders en persone wat nie aan die voorgeskrewe vereistes van die wetgewing voldoen nie."
Hoe beïnvloed dit egter brandbestryding, sou 'n geskeduleerde brand dalk buite beheer raak?
Die munisipaliteit het eerstens benadruk dat 'n grondeienaar verantwoordelik bly vir enige brand op sy of haar eiendom. Ingesluit in hierdie verantwoordelikheid is die tref van redelike voorsorgmaatreëls om brande te voorkom, en die neem van nodige stappe om brandrisiko's op hul eiendom te bestuur. Maar indien 'n brand dan wel buite beheer raak, is die sisteme in plek.
"Brand-, reddings- en rampbestuursdienste funksioneer ingevolge wetgewing as 'n reaktiewe munisipale nooddiens en reageer op voorvalle wanneer hulp versoek word of wanneer die diens ontbied word. Soos algemeen in die brandbestrydingsomgewing die geval is, bestaan daar wedersydse ondersteuningsooreenkomste tussen brandweerdienste en brandbeskermingsvennote. Hierdie ooreenkomste maak voorsiening vir ondersteuning tussen agentskappe wanneer die omvang of aard van 'n voorval dit vereis," sê die munisipaliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’