MOSSELBAAI NUUS - 'n Barbarians-rugbyspeler is vroeg vanoggend, Sondag, 15 Junie, met 'n skerp voorwerp doodgesteek.
Leroy Koopman (34) is glo vanoggend om 02:00 aangeval. Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die voorval in Adriaanstraat, KwaNonqaba, plaasgevind.
Volgens Spies is Koopman met 'n steekwond in die bors gevind en deur paramedici op die toneel dood verklaar. 'n 27-jarige verdagte is reeds in hegtenis geneem.
Die KwaNonqaba-polisie ondersoek 'n saak van moord.
“'n Nadoodse ondersoek om die oorsaak van dood te bepaal sal na verwagting vroeg vandeesweek uitgevoer word,” sê Spies.
Die verdagte bly in aanhouding en behoort gedurende die komende week sy eerste hofverskyning te maak.
Mossel Bay Advertiser sal sy lesers op hoogte van sake hou soos meer inligting bekendgemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’