Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - Of hulle nou in hulle 40's, 50's of 81 jaar oud is, dié groep kunstige vroue se hande staan vir niks verkeerd nie.
As jy al ooit gewonder het wie verantwoordelik is vir die skilderagtige mosaïekprojek by die deurloop na die Poort, hiér is meer inligting oor die vroue agter die mure.
"Vir baie jare al wik en weeg ons om die eens donker deurloop by die Poort op te helder, maar in daardie stadium was ons werkende vroue," vertel Rienie Human, een van die vroue betrokke by die projek.
FOTOGALERY: Só vorder mosaïekprojek by Poort
"In 2023, ná 'n paar besoeke aan die Pinnacle Point mosaïekwonderwerk, toestemming van die Mosselbaai-munisipaliteit, asook 'n geduldige borg, het ons besluit om die deurloop te takel. Min het ons geweet van die gepaardgaande uitdagings soos onegalige mure, klammigheid in die mure, die soms ysige winde en natuurlik die see wat gereeld kom kuier..."
Die groep bestaan uit so 16 vroue wat om die beurt hulle deel doen om die projek klaar te kry. Voor hulle die mosaïek-groep geword het, was hulle bloot vriendinne wat al vir jare lank by die Poort swem.
"Ons het teen einde Mei 2023 die mure een vir een getakel, geteken op papier, tuis op netstrokies geplak en dan, as die weer en see ons toelaat, die strokies muur toe geneem en by die muur gelas, geplak, ingevul en eers as hy veilig ge-grout is, kon ons rustig wees."
VIDEO: Een van die voltooide mosaïekmure by die Poort
Dusver het hulle reeds sowat 90m² van muur met kleur en kuns versier, sê Human. Die lig aan die einde van die tonnel is wel al sigbaar met slegs een oop muur wat nog vir hulle voorlê - hulle mik om dié muur oor die volgende drie maande te voltooi.
"Elke vrou bring haar unieke talent, karakter en humor na die plaktafels toe. By die muur sit ons susters met stof en wind in ons hare, gebreekte naels, pleisters op ons vingers, maar met dankbaarheid en liefde in ons harte, want ons maak 'n verskil!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’