GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Inwoners van Groot-Brakrivier sê Morrisonweg is 'n ongeluk wat wag om te gebeur. Volgens inwoners het die verkeer in die gebied die afgelope tyd toegeneem en is daar na bewering gereeld spoedvrate wat nie by die spoedbeperking hou nie.
Inwoner, Johan van Staden, sê hulle is bekommerd oor die veiligheid van inwoners en toeriste wat die gebied besoek.
"Al wat ons vra is ondersteuning sodat spoedwalle en 'n voetoorgang tussen die restaurante gebou kan word." "Hier was al baie ongelukke op die pad en die ganse loop ook deur."
Die gebied is bekend vir restaurante asook die spoorweg by die Groot Brak-stasie waar die bekende bloutrein en die stoomtrein met toeriste stop.
Die pad is 'n provinsiale pad en dus nie in die Mosselbaai-munisipaliteit se jurisduksie nie.
Van Staden sê hy en 'n ander inwoner van Outeniqua-strand het 'n jaar gelede met betrokkenes vergader om die spoedprobleem te bespreek.
"Al antwoorde wat ons gekry het, is dat hulle die polisiëring sal verhoog maar niks aan die pad kan doen nie."
'n Betroubare bron by die Mosselbaai se provinsiale verkeersdienste het aan die Mossel Bay Advertiser gesê die pad is nie geskik om spoedwalle op te rig nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’