MOSSELBAAI NUUS - Die 29-jarige verdagte in die moord op Colin Bone, 'n bejaarde inwoner van Groot-Brakrivier, bly steeds in aanhouding terwyl sy saak voortduur.
Die man het weer op 21 Mei op Groot Brak in die hof verskyn.
Die verdagte het uiteindeik 'n streekhofdatum gekry vir die saak om voort te gaan. Hy sal op 19 Junie in die Mosselbaai-streekhof verskyn.
Hy is sedert sy inhegtenisname in September verlede jaar in aanhouding.
Die aanvanklike aanklagte in die saak was huisroof en poging tot moord, maar is ná Bone se afsterwe op 26 September na huisroof en moord verander. Bone, wat vermoedelik op Sondag, 17 September, verlede jaar op sy hoewe met 'n piksteel aangerand is, is weens sy beserings in die hospitaal oorlede.
'n Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat Bone met onder meer 'n piksteel oor sy kop geslaan is. Daar was ook 'n bebloede klip op die toneel. Hy is vanaf die George hospitaal na die Groote Schuur hospitaal in Kaapstad oorgeplaas waarna hy weer terug is na die George hospitaal waar hy oorlede is.
Sy wit Opel Astra en sy selfoon is gesteel. Die verdagte is kort daarna op Villiersdorp in hegtenis geneem. Die voertuig is ook in dié gebied gevind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’