MOSSELBAAI NUUS - 'n Mens se lewe kan in 'n oogwink met 'n enkele gebeurtenis verander. En weens omstandighede, kan dit jare neem voor jou lewe 'n ander wending inneem.
Roderique Peterson (alias Whitey) se lewe het in 'n stadium só 'n wending geneem.
Peterson was 'n baie intelligente leerder toe hy op skool by Sao Bras was. Hoewel hy reeds in sy skooldae met dwelms deurmekaar was, het iets drasties in sy lewe gebeur wat sy hele lewe omgekeer het.
Whitey, soos meeste mense wat gereeld by Die Broodmandjie in Da Nova inkopies doen hom ken, weet dat hy 'n sielkundige probleem het. Niemand weet egter wat die oorsaak van dié probleem is nie.
Sy daaglikse roetine is om voor Die Broodmandjie rond te beweeg en dan so hier en daar 'n geldjie te bedel.
"Soms maak hy net geluide en beduie, ander kere sal hy praat," vertel Colin Middleton, werknemer by Die Broodmandjie. Hy vertel aan die Mossel Bay Advertiser dat dit al amper 'n instelling geword het dat Peterson by die winkel instap en vir koffie vra.
"Hy sal selfs inkom en die koerant lees."
"Presies wat hy vra, moet jy vir hom gee," vertel Cynthia Malgas, ook 'n werknemer by die besigheid.
"As hy R5 vra en jy gee hom R10, sal hy jou R5 kleingeld gee," sê sy. "Eendag het hy nommers hier op die muur geskryf. Ons het nog gespot dat dit Lottonommers is. Vyf van die nommers was reg, maar ons het nie gespeel nie," vertel Malgas.
"Hy is eintlik skadeloos, maar mense is bang vir hom, want hy lyk soms gehawend," vertel Middleton.
Beursie opgetel
Whitey het 'n tyd gelede 'n beursie opgetel en dit by Die Broodmandjie afgegee. Dit was vol geld.
"Hy het ingekom en dit vir een van die personeel gegee. Al die geld en kaarte was steeds in die beursie en die eienaar is opgespoor," sê Middleton.
Hy vertel dat Whitey eintlik 'n dierbare mens is.
"Een oggend toe ek 04:00 die winkel oopmaak was Whitey daar. Ek het hom koffie gegee terwyl hy klomp nonsens praat en lekker lag.
"Sy roetine hier is koffie, dan soek hy iets te ete en dan 'n entjie (sigaret) en dan is hy weg."
Middleton vertel dat Whitey al daar aangekom het, aangerand en met 'n potblou gesig. Volgens Middleton verstaan mense Whitey nie en buiten die feit dat hy 'n sielkundige probleem het, oordeel mense te gou.
Middleton sê hy wou hierdie storie van Whitey se weldaad vertel, om die publiek te oorreed om nie altyd so maklik te oordeel nie en dat daar in alle mense iets goeds is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'