MOSSELBAAI NUUS - Die rede vir 'n gevangenis is tog om misdadigers binne te hou, hopelik te rehabiliteer en so wetsgehoorsame burgers buite die tronkmure veilig te hou... of hoe?
'n Nuwe tendens steek egter die afgelope paar maande ook by die Mossel Bay Youth Centre kop uit.
Mense buite die tronkmure breek die veiligheidsheinings af en dra dit weg - tot nadeel van tronkbewoners en die gemeenskap.
Volgens 'n anonieme bron word die heinings gesteel en lede van die omliggende gemeenskap kom dan dié afgebakende gebied binne om hout bymekaar te maak.
Dié betrokke gebied binne die gevangenis huisves die sentrum se gastehuise en die bewaarders se wonings. Die gebrek aan heinings het gou gelei tot meer ernstige misdade, soos inbrake by huise waar elektroniese toerusting gesteel is. Volgens die bron voel die bewaarders nie meer veilig in hul wooneenhede nie.
Die gebrek aan omtrekheinings maak dit moontlik vir mense van buite om dwelms óór die binneheining te gooi wat dan binne bereik van gevangenes is.
Die maklike verkryging
van dwelms veroorsaak groot frustrasie vir die bestuur van die sentrum, omdat dit rehabilitasie kniehalter en lei tot onrus en ander probleme onder gevangenes. Volgens 'n woordvoerder van die Departement van Korrektiewe Dienste, Candice van Reenen, is 'n formele klag van vandalisme en diefstal by die Suid-Afrikaanse polisiediens op Mosselbaai, geopen.
"Die SAPD doen gereelde patrollies rondom die heining om sigbare polisiëring te verskerp. In 'n samewerkingsverhouding tussen die Mosselbaai Munisipaliteit en die Besigheidskamer, is sekuriteitskameras aangebring om misdaad en inbrake in die gebied te voorkom."
Volgens van Reenen wil die departement van korrektiewe dienste die gemeenskap verseker dat alles moontlik gedoen word om hulle veilig te hou. Daar word ook gekyk na 'n alternatiewe struktuur om die huidige omtrekheining te vervang. Die departement het 'n beroep gedoen op die gemeenskap om saam met hulle en die polisiediens te werk en kriminele aktiwiteite aan te meld.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'