MOSSELBAAI NUUS - "Mosselbaai-munisipaliteit bedank die onderskeie buurtwagte en die Mosselbaai-gemeenskapspolisieforum vir hul kontruktiewe samewerking in die identifisering van misdaadknelpunte.
"Deur saam te werk, kan ons ons gemeenskappe beter beveilig," sê die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee.
Die opmerking volg nadat 'n struktuur in Abrahamstraat op Maandag, 11 November deur die munisipaliteit gesloop is.
Dié halfvoltooide gebou is na bewering vir geruime tyd deur misdadigers gebruik vir onder meer dwelmhandel.
Die gemeenskap het hul frustrasie met die misdadigheid laat blyk en die Mosselbaai-munisipaliteit het die hof ingevolge die nasionale bouregulasies vir 'n slopingsbevel genader.
Om belastingbetalers onnodige onkoste te bespaar, het die munisipaliteit besluit om die sloping self te hanteer. Die werk is Maandag onder die waaksame toesig van die Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuursdienste en die beroepsgesondheids- en veiligheidsbeampte afgehandel.
"Mosselbaai-munisipaliteit doen 'n beroep op die gemeenskap om by buurtwagte en ander gemeenskapsorganisasies soos die Mosselbaai GPF betrokke te raak sodat misdadigheid voorkomend aangespreek kan word," sê die munisipale woordvoerder, Colin Puren.
Die halfvoltooide struktuur is vinnig afgebreek en die bourommel verwyder nadat die Mosselbaai-munisipaliteit ingetree het om die area in Abrahamsweg te beveilig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'