MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope tyd was misdaad in sektor 2 van die Da Gamaskop-polisie se bedieningsarea onder die loep nadat verskeie voorvalle aangemeld is.
Die areas wat skynbaar veral in die visier van misdadigers is, is Vakansieplaas, Island View, Hartenbos Heuwels, Menkenkop, Seemeeu Vlug en Seemeeu Park.
In een voorval, volgens inligting is sewe selfone uit 'n woning in Island View gesteel gedurende die nag toe die inwoners geslaap het. Ander voorvalle waarvan die polisie kennis dra en wat op die buurtwag se WhatsApp-groepe gerapporteer is sluit in huisbraak en poging tot huisbraak, asook diefstal uit motorvoertuie.
Volgens kaptein Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, is hierdie voorvalle egter nie beperk tot sektor 2 nie. Ook in sektor 1, wat onder meer D'Almeida en Uitbreiding 13 insluit, is voorvalle van diefstal uit motorvoertuie, asook rooftogte gerapporteer.
In een sodanige rooftog, het 'n verdagte slagoffers met 'n kapmes op straat gedreig. Tydens drie voorvalle is onder meer 'n selfoon, tablet, asook sigarette en sigaretaanstekers geroof. Lede van die polisiestasie se misdaadvoorkomingseenheid onder leiding van ao Noël Jacobs het egter reeds drie verdagtes in verband met die voorvalle in hegtenis geneem.
Bly waaksaam
Volgens kapt Fourie moet die gemeenskap nie hulle waaksaamheid verslap nie. "Wat huisbrake betref, veral snags, versoek ons die gemeenskap om ag daarop te slaan wanneer honde blaf of wanneer hulle iets verdags hoor buite. Staan maar op. Skakel 'n lig aan. Hou ook WhatsApp-groepe dop en kommunikeer daarop."
Volgehoue buurtwagaktiwiteit is kernbelangrik om misdaad hok te slaan, aldus kapt Fourie.
Kaptein Fourie het wat betref diefstal uit motorvoertuie gesê dat mense daarteen moet waak om enige items in hulle voertuie te los waar dit sigbaar is. "Moenie nalatig wees nie. Haal alles uit jou motor wat kan aandag trek of sluit dit dan ten minste in die katttebak toe. Daar is baie kriminele wat net rondloop en 'n geleentheid soek om iets te steel."
Hy het voorts gesê dat die gemeenskap nie moet skroom om misdaad, selfs pogings tot misdaad aan te meld nie. "Die polisie wil misdadigers aankeer. Wanneer daar 'n poging tot huisbraak of diefstal is, kan inligting bekom word wat misdadigers aan die pen kan laat ry. Op hierdie manier kan misdaadtendense ook bepaal word sodat strategieë aangepas kan word."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'