Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, minister Bonginkosi Madikizela het Maandag, 14 Desember 'n verrassingsbesoek aan die Mosselbaai-sakekern se taxistaanplek gebring om met taxi-eienaars en bestuurders te skakel oor die nakoming van gereguleerde Covid-19-voorkomingsmaatreëls.
Enkele ure later het president Cyril Ramaphosa in sy gesprek met inwoners oor die gewysigde inperkingsmaatreëls aangekondig dat die eienaars van openbare vervoer strafregtelik vervolg sal word indien nie toegesien word dat al die passasiers in 'n taxi deurentyd 'n gesigmasker korrek dra en behoorlik saniteer nie.
Die LUR het die roede nie gespaar toe hy taxibestuurders, taxi-eienaars en passasiers sonder gesigmaskers aangetref het nie.
Hy het 'n beroep op die leierskap van die taxibedryf gedoen om toe te sien dat die Covid-19-regulasies streng nagekom word.
Die besoek aan Mosselbaai was deel van 'n blitsbesoek aan die Tuinroete om met taxi-verenigings, eienaars, bestuurders en passasiers te skakel.
"Ek wil nie hê dat mense na die taxi-industrie as super spreaders van die koronavirus verwys nie."
In Mosselbaai het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die uitvoerende burgemeester van Garden Route, Memory Booysen, die adjunk-uitvoerende burgemeester van Garden Route, raadsdame Rosina Ruiters en Mosselbaai se portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, raadslid Niklaas Booisen die LUR vergesel.
Madikizela het die mense wat hy sonder gesigmaskers aangetref het, vermaan en gesê dat hulle optrede kan bydra tot die snelle verspreiding van die koronavirus.
Hy het ook verskeie padblokkades op die N2 in die Suid-Kaap besoek, waar hy met motoriste geskakel het en gevra het dat die streng veiligheids- en voorkomingsmaatreëls behoorlik nagekom moet word.
Die minister het individuele taxi's voorgekeer en met die drywer en insittendes gesels om die noodsaak van voorkomende optrede te beklemtoon.
Vorige artikel: Minister praat hard
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'