Hy het die DA se plaaslike politieke leiers en ondersteuners begeester met die geesdrif waarmee hy die 2016 verkiesing tegemoet gaan. Hy het gesê die DA is voornemens om Suid-Afrika te regeer, en beplan om in die komende plaaslike owerheidsverkiesing ten minste die metropole van Port Elizabeth en Tswane, selfs Johannesburg in te palm. "Ons gaan vanuit die Uniegebou regeer, ek weet reeds waar my nuwe kantoor is," het minister Meyer bygevoeg.
Hy het kaalvuis onder die ANC ingeklim en gesê die gety is besig om teen die regerende party te draai. Waar die ANC se president uit 'n posisie van mag vir die kiesers lag, het hy gesê, dien die DA die belange van sy kiesers met goeie dienslewering.
Minister Meyer het bygevoeg dat die nuwe DA leier, Mmusi Maimane verandering in die party teweeg gebring het. "Niemand kan meer die rassekaart na die DA gooi nie, met Maimane aan die stuur sal ons nou die harte van die jeug in Suid-Afrika aangryp".
