MOSSELBAAI NUUS - Met agt onderskeidings op haar kerfstok, beywer Curro Mossel Bay se top-presteerder haar vir die mediese veld in 2024.
Nou dat sy klaar is met skool, sien Mienke de Beer die meeste daarna uit om nuwe doelwitte te bereik en haar passie vir die mediese veld te kan uitleef.
Sy wag nog om van haar eerste keuse (die Universiteit van Kaapstad) te hoor. Sy is daar op 'n waglys, maar sy het ook gekwalifiseer vir 'n beurs by die Universiteit van die Witwatersrand en die kans is goed dat sy moontlik daar sal opeindig.
Iets wat haar deur die matriekjaar laat hard werk het, is hoe dit sou eindig.
"Die vooruitsigte om twaalf jaar se harde werk op 'n positiewe noot met goeie resultate af te sluit, was genoeg motivering. Wat my verder motiveer het, is die feit om medies te kan studeer. Dit is iets wat waarde sal toevoeg, nie net tot my lewe nie, maar ook my medemens s'n.
"Die tye wat ek nie agter die boeke deurgebring het nie, het ek my pligte as hoofleier en as 'n lid van die Junior Stadsraad van Mosselbaai uitgevoer. In my vrye tyd het ek dikwels langs die see ontspan en met my gesin deurgebring."
Deur haar hele skoolloopbaan het haar laaste jaar van beslis uitgestaan.
"Van kleure-atletiek en Valentyns sokkie tot ons matriekafskeid - elke sosiale geleentheid was baie spesiaal."
Mienke de Beer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’