MOSSEBAAI NUUS - Oud genoeg om die nodige ervaring te hê, maar ook jonk genoeg om steeds baie energie en passie vir die onderwys te hê.
Só redeneer Curro Mosselbaai se uitvoerende hoof, Brian O'Neil, oor sy 49 lewensjare. Hy is nou al vir vyf jaar by dié skool, maar reeds nege jaar deel van die wyer Curro-familie.
O'Neil is in Louis Trichardt, Limpopo, gebore, nie ver van Levubu nie, waar sy ouers as polisielede gestasioneer was.
Met ma én pa in hierdie beroep het hy die waarde van harde werk, trots en selfdissipline geleer, vertel hy.
"My ouers se werk het veroorsaak dat ons dikwels moes verhuis, en ek het dus verskeie laerskole bygewoon. Ek het uiteindelik in Pretoria beland waar ek my hoërskoolloopbaan by Hoërskool Oos-Moot voltooi het."
Sedert hy sy onderwyskwalifikasie in 1998 in Potchefstroom verwerf het, het hy ondervinding in staatskole, die korporatiewe omgewing, asook privaat skole opgebou - en van die ondervinding kom selfs van oor die water.
Sy vakke by verskillende skole het onder meer sosiale wetenskappe en tegnologie ingesluit, tesame met betrokkenheid by sport, veral rugby en hokkie, ook op provinsiale vlak.
O’Neil se vierdejaarklasfoto van die Potchefstroomse Onderwyskollege-sportdepartment in 1998.
Beginjare
Sy loopbaan het by Laerskool Hennopspark in Pretoria in die gr. 4-klas afgeskop.
"Dit was vir my belangrik om blootgestel te word aan alle vakke, veral in gr. 4 waar leerders vir die eerste keer eksamen skryf," sê hy.
Aan die einde van 2003 het hy die geleentheid gekry om vir 'n tyd in Birmingham, Engeland, skool te hou en rugby te speel, waarna hy vir twee jaar in Londen gebly het.
Dié kranige sportman is met sy terugkeer as hoof van sport by Laerskool Constantiapark aangestel, natuurlik nog benewens sy onderwysrol.
Curro-leerders ondersteun vir mnre. Esli Meyer en Brian O’Neil gedurende verlede jaar se Mosselbaai Golden Oldies-rugby.
Sy privaatskoolloopbaan het in 2008 begin toe hy by Pridwin Preparatory School in Johannesburg aangesluit het. Hier was sy fokus op leer in die 21ste eeu.
Ook in 2012, toe hy by Redhill School in Sandton aansluit, was die implementering van nuwe leermetodes deel van sy werk as onderhoof vir sport, kultuur en 21ste eeuse leer.
As stigtershoof van Curro Rivonia in 2016 het hy ook die unieke geleentheid gehad om 'n skool van die grond af te begin.
Liefde
O'Neil sê hy het van kleins af al 'n liefde vir mense gehad en 'n begeerte om ander te help ontwikkel.
"Ek het onderwysers gehad wat my geïnspireer het - rolmodelle wat nie net vakinhoud geleer het nie, maar ook lewenslesse. Hulle het die vonk aangesteek."
Hy sê 'n groot invloed op sy besluit was 'n beroepsvoorligtingsonderwyser, oom Karoolus van Maranataland. Oom Karoolus (Cor Uys) en Lente ('n handpop) tree gereeld by kerke op en verkondig die Woord aan die jongspan.
"My geskiedenisonderwyser, mnr. Arrie van Deventer, het ook my liefde vir dié vak aangewakker, soveel so dat ek dit as hoofvak op universiteit gekies het."
Sy kleintydliefde is vandag ook nog sy gunstelingdeel van die onderwys: "Om jongmense te sien groei - nie net akademies nie, maar ook as mense. Daar is niks wat my meer vreugde verskaf as om te sien hoe 'n kind se selfvertroue ontwikkel nie."
Staaltjies
Skoolvreugde kom ook in ander vorme, en soos enige onderwyser het O'Neil natuurlik 'n paar humoristiese oomblikke in die bank.
"Een van my gunstelingstaaltjies is uit die personeelkamer: Op my eerste dag as jong onderwyser is daar oor operasionele sake gepraat.
“'n Senior juffrou vra toe ernstig vir die hoof: 'Meneer, waar gaan ons ons besems afhaal voor die skool begin?' Sy het natuurlik na skoonmaaktoerusting verwys, maar die hoof het doodernstig geantwoord: 'Mevrou, by hierdie skool voorsien ons nie vervoer nie.'
“Dit het almal in 'n lagbui gehad, en ek onthou dit steeds met 'n glimlag."
Uitvoerende hoof
Die balans tussen administrasie, mensebestuur en die welsyn van elke leerder is vir hom die grootste uitdaging van sy huidige posisie.
"'n Skool is soos 'n groot familie - dit vra baie aandag, tyd en toewyding om almal gelukkig en gefokus te hou, veral in moeilike ekonomiese tye.
“Ons personeel, leerders en ouers ervaar geweldige druk, en dit bly 'n uitdaging om standaarde hoog te hou terwyl die menslike aspek nooit uit die oog verloor word nie."
Mense is ook sy sleutel, sê hy. "'n Hoof kan nie sukses behaal sonder toegewyde personeel, ondersteunende ouers en entoesiastiese leerders nie."
Buite die skool is sy huismense sy ander sleutel.
Die O’Neil-gesin, ousus Irné, pa Brian, ma Irma, die middelse, Rouxlé, en die jongste, Ryan.
"Ek hou daarvan om tyd saam met my familie deur te bring - hulle is my anker.”
“Ek geniet ook sport, lees, en wanneer ek kan, verken ek graag die natuur hier langs die kus. Ek probeer ook meer tyd op die gholfbaan bestee, al is dit nie altyd moontlik nie."
En Mosselbaai se mense beskryf hy as warm, gasvry en opreg. "Ek ervaar 'n gemeenskap wat mekaar ondersteun en wat 'n groot liefde vir gesin en kinders het. Dit maak die werk hier 'n groot vreugde."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’