MOSSELBAAI NUUS - Die bekende musikant Mel Botes tree op 11 Oktober in die Dias Museum in Mosselbaai op met 'n uitvoering van klassieke musiek, genaamd Vuurseisoene.
Volgens Japie Gouws van die Mosselbaai-kunstevereniging, is Botes se interpretasie van die klassieke meesters soos Vivaldi en Beethoven, 'n weerspieëling van sy passie, uitbundige kreatiwiteit en 'n brein wat alles bevraagteken.
Volgens 'n mediaverklaring wat Mel Botes as musikant bekendstel, is sy musiek vol kontrasterende kwaliteite: soms bittersoet, pynlik-beeldskoon, hartseer, dramaties, majestueus, inspirerend, oortuigend en soms onrusbarend en onstuimig met ontploffende klanke wat die luisteraar verras.
Gouws beklemtoon "sy geniale talent kan nie beskryf word nie, dit moet ervaar word! Ons daag jou uit".
Die deure open 18:00 en die musiekuitvoering begin om 19:00. Kaartjies is R180 vir nie-lede en R150 vir lede. Dit is gratis vir skoolgaande kinders. Besprekings kan per WhatsApp gedoen word by 064 963 9962.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'