Vir die Denneprag skoolgemeenskap is dié goeie nuus van weinig waarde; hulle veg verbete om hul skooltjie te behou.
Ruiterbos
Ruiterbos Primêr skoolhoof mnr JM Saayman sê die besluit om die leerders van Denneprag by sy skool in te skakel, kan net tot voordeel van die leerders strek.
"Ons sal kleiner klasse met toegewyde onderwysers hê, leerders sal aan georganiseerde sport kan deelneem, want ons sal genoeg leerders hê om vol spanne te laat kompeteer, akademiese prestasies sal verbeter as leerders een onderwyser per graad het en ouers sal aan hierdie prestasie kan sien dat die besluit tot die voordeel van hul kinders geneem is."
Ruiterbos se leerders word tans almal na die permanente struktuur skooltjie aangery vanaf omliggende plase, en vanaf 2013 sal Denneprag se leerders daagliks by hierdie pendelwyse aansluit om op Ruiterbos skool te gaan. Uiteindelik sal sowat 80 tot 90 leerders daagliks na en van die skool pendel.
Die Minister se besluit om die Denneprag skool te sluit spruit uit die departement se aanbeveling dat Ruiterbos Primêr se skoolgebou in 'n goeie toestand is, leerders in enkelgraad klasse geplaas sal kan word, sportfasiliteite bestaan, leerders beter behoort te presteer in enkelgraad klasse, leerders aan sistemiese toetsing onderwerp sal kan word (wat voorheen weens leerdergetalle nie moontlik was nie) en dat leerders sosiaal beter sal ontwikkel binne hul eie ouderdomsgroep.
Denneprag
Die Weskaapse Minister van onderwys, Donald Grant, het finaal besluit om die Denneprag skool op Ruiterbos op 31 Desember 2012 te sluit, ten spyte van tientalle besware deur beide die gemeenskap en die plaaslike DA. Die minister se woordvoerder, Bronagh Casey, sê die Minister se besluit is finaal en gegrond op deeglike oorweging.
In 'n e-pos aan die Minister en ander DA ampsdraers het Rozain Hansen, die DA Gemeenskapsbedryfsbestuurder Grant versoek om die gemeenskap te besoek.
Op 1 Junie het sy geskryf: "Ek wil die situasie in een van ons skole in die Ruiterbos area onder u aandag bring indien u (nie) reeds daarvan kennis neem nie, want die situasie kan nadelige gevolge vir ons as DA inhou. Ruiterbos is 'n landelike gemeenskap wat verdeel word in Denneprag en Ruiterbos plase. In Denneprag is 'n gevestigde skool en gemeenskap. In Ruiterbos is 'n skool wat deur plaaskinders gevul word. Denneprag vorm ook deel van ons Landelike Ontwikkelingsproses, wat deur Stephan Conradie van Provinsie en provinsiale departemente gedryf word. Die toekoms daar is rooskleurig, asook uitbreidingsgeleenthede."
Desondanks het die Minister, sonder om die gemeenskap persoonlik te besoek, besluit om die skool midde in die gemeenskap te sluit en die leerders vanaf Januarie 2013 by Ruiterbos in te deel.
"Ons verloor nie net 'n skool nie, ons verloor die hart van ons gemeenskap," meen Christoffel Smit, 'n gemeenskapsleier van Ruiterbos wat te velde trek teen minister Grant se besluit.
"Ons mense is baie, baie gekant teen hierdie eensydige besluit. Denneprag se fasiliteite is baie goed in stand gehou, want vir ons is dit ons kerk, die kleedkamer vir ons sportspanne, hier word ons jeugbyeenkomste gehou, hier kry ons pensioenarisse hul Allpay. Van die eerste storie oor die skool se sluiting, het ons probeer om die Minister hier te kry om met ons te kom praat, maar hy het nog nie sy voet op Ruiterbos gesit nie. Hoe kan hy in Kaapstad sit en besluite oor ons neem as hy nie eens weet hoe dit hier lyk nie?"
"Maak nie saak hoeveel briewe hierdie gemeenskap aan die Departement van Onderwys en die Minister gestuur het nie, ons kry geen respons nie. Hier gaan dit om 'n gemeenskap, ons baklei om ons skool se behoud, ons gemeenskap verloor infrastruktuur wat onvervangbaar is" se mnr Malgas, 'n beheerraadslid.
Mnr Eric Solomons, 'n gemeenskapsleier van Denneprag, sê ook dat die leerders gebuk gaan onder onsekerheid oor hul toekoms. "Ek kan nie aan my kind die gemoedsrus gee wat nodig is nie. Watter beheer het ouers oor kinders wat kilometers verder, die bergpas af, moet skool gaan?
Hier weet ons ons kinders is veilig, as hulle nie by die skool is nie, is die onderwysers binne oomblikke by die ouers om uit te vind wat makeer. Watter beheer gaan ouers oor kinders hê wat aangery moet word na 'n skool etlike kilometers hiervandaan? Wie gaan instaan vir ons kinders se veiligheid? Net voorlaasweek was hier nog weer 'n ongeluk met 'n groot lorrie in die pas - moet ons 'n Rheenendal tragedie tegemoet gaan? Het die Minister self kom sien hoe gevaarlik die pad hier af na Ruiterbos is?"
Denneprag se skool beskik oor sportfasiliteite wat ook deur die gemeenskap gebruik word, die rugbyspan neem selfs aan die SWD derde liga deel.
Leerders
Mev Letitia October, die waarnemende skoolhoof van Denneprag Primêr, is al 17 jaar deel van hierdie gemeenskap en skool. Sy sê daar is nog glad nie met haar onderhandel oor haar of haar personeel se toekoms nie. Sy aanvaar dat sy saam met die kinders na Ruiterbos sal skuif wanneer die Denneprag skool sluit, maar niemand het haar nog oor haar werksekerheid gekontak nie.
Leerders by die skool is net so ontsteld oor die besluit om die skool te sluit: "Ons sal oor die hek klim as hulle dit sluit, ons sal op die stoep skoolgaan, ons sal nie op die bakkie klim wat die kinders Ruiterbos toe ry nie," sê leerders met wie die Mossel Bay Advertiser gepraat het.
Casey sê Denneprag se 43 leerders kan by die bestaande vervoerskema na Ruiterbos inskakel en dat die Distrikskantoor van die Department van Opvoeding die nodige uitbreiding aan daardie skema sal finaliseer.
'n Openbare vergadering is op Maandagaand, 22 Oktober op Denneprag gehou waar die groter gemeenskap oor die skool se sluiting besin het.
"Tot nog toe het ons die skool se sluiting as 'n ouer-aangeleentheid behandel. Dit raak egter die hele gemeenskap as ons ons infrastruktuur in die proses verloor."

Christoffel Smit sê die gemeenskap veg om die behoud van die skool. "Vir ons is dit nie net 'n skool nie, dis die hart van ons gemeenskap."

Ruiterbos Primêr se skoolhoof, mnr JM Saayman, reken ouers sal teen hierdie tyd volgende jaar toegee dat die skuif na Ruiterbos die regte besluit vir hul kinders was.

Daar is nog nie met die waarnemende skoolhoof van Denneprag Primêr, mev Letitia October, onderhandel oor 'n alternatiewe pos nie.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS