MOSSELBAAI NUUS - Die brandbestryders verbonde aan die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste werk in drie skofte van agt uur elk, hoewel naweekskofte 24 uur beloop.
Dan word nie net brande geblus nie, maar heelwat tyd bestee aan roetine werk wat onder meer inspeksies, skoolbesoeke en -opleiding en nakomingsbesoeke aan besighede insluit.
Hierbenewens moes brandbestryders die afgelope twee maande op 11 vals berigte van brande reageer, en het hulle sowat 50+ slange uit mense se eiendom verwyder en op veilige plekke vrygelaat.
Die samevattende statistiek vir November was teen druktyd nie beskikbaar nie.
Daar is gemiddeld 13 brandbestryders per skof, wat onder meer die skof-offisier en beheerkamerpersoneel insluit. Hierdie personeel word ook siek, hulle is ook op verlof geregtig.
Daar is dus nie noodwendig altyd 13 persone per skof beskikbaar om brande te blus nie.
Anders as in die chaos van die Danabaai-brande in 2016/7, en die brande in Junie vanjaar, is daar ook nie elke dag brande wat hanteer moet word nie.
Dit is dan wanneer brandbestryders plase in die omgewing besoek om brandpermitte uit te reik en landbouers van hulp te wees waar nodig.
Sowat 70 plase is in September en Oktober besoek. Boonop moniteer hulle die funksionaliteit van brandkrane maak seker dat alle brandweerwaens en toerusting in tiptoptoestand is.
Hulle doen selfs eiehandig herstelwerk aan masjinerie en infrastruktuur by die stasie en bespaar daardeur die belastingbetalers duisende rand per jaar.
Die onderskeie skofte het elk 'n gemeenskapsprojek van stapel gestuur waarin hulle 'n gemeenskap "aangeneem" het en van deur tot deur besoeke bring om inwoners se weerbaarheid teen brande op te skerp.
Brandbestryders Marius Barnard (foto) en Mario Meyer het vandeesweek self ingespring en nuwe teëls in die brandweerstasie gelê. Foto: Dave van der Merwe
Hulle besoek tavernes, restaurante en kuierplekke om seker te maak die plekke voldoen aan brandvoorkomingsmaatreëls en dat brandbestrydingstoerusting werk en gediens is.
Hulle bring ook besoek aan hoërisiko areas om te verseker dat ook daar aan alle noodmaatreëls voldoen word.
Brandbestryders is tans besig om rookverklikkers by huise in informele areas te installeer en die gemeenskap voor te lig in die gebruik daarvan.
Met die vakansieseisoen op hande, is dit ook die brandbestryders wat sal verseker dat die nodige gedoen word dat swemstrande beveilig word en lewensredders toegerus is om hul take uit te voer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'