MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt se matrieks het op Maandag, 1 Junie na meer as twee maande se inperking na die skoolbanke teruggekeer.
Personeel en leerders was opgewonde, maar nie sonder tikkie vrees in die hart.
Reeds in die eerste week van inperking het die beplanning begin. Die primêre doelwit was om 'n sisteem in plek te sit om die veiligheid van elke leerder en personeellid te verseker.
Deeglike navorsing is gedoen om die regte ontsmettingsprodukte aan te koop. Eenvormige maskers vir leerders en personeel, wat aan die regering se spesifikasies voldoen, is bestel en aan graad 12-leerders gegee.
Hoërskool Punt se sportbestuurder se posbeskrywing het letterlik verander na veiligheidsbeampte. Meneer JR Foreman het saam met sy span reusewerk gedoen om alles in plek te kry voor personeel en leerders kon aanmeld.
Die gemeenskap se hand was oop en verskeie borge vir maskers is deur ouers, vriende en die personeel van Life Bay View privaat hospitaal verskaf. Die administratiewe, asook koshuispersoneel, algemene werkers en personeel is deeglik deur kundiges van Life Bay View privaat hospitaal opgelei.
'n Ouer van die skool het ook 20 handsaniteringsstasies aan die skool geskenk. Vir hierdie ondersteuning, is die skool baie dankbaar.
"Ons is baie dankbaar om te kan sê dat die eerste week skitterend verloop het. Enkele haakplekke is maklik uitgesorteer en na 'n week by die skool begin die matrieks aan die ongewone omstandighede gewoond raak. Die samewerking van die leerders was uitstaande."
Die WKOD se kringkantoor op Mosselbaai se veiligheidsbeampte het ook 'n inspeksiebesoek aan die skool gebring. 'n Voltelling van 10 uit 10 is deur die skool behaal. Mediese personeel van Life Bay View hospitaal het ook 'n besoek aan die skool en koshuis gebring. Hulle was vol lof vir al die voorbereidings en prosedures.
"Daar word nou uitgesien na die terugkeer van die res van die Visse. Die graad 10- en 11-leerders keer op 6 Julie terug en die graad 8- en 9-leerders op 3 Augustus. Hierdie leerders ontvang steeds afstandsonderrig van die skool.
"Personeel en leerders is uiters gemotiveerd om die 2020 akademiese jaar met sukses af te handel. Harde werk en lang ure lê egter nou voor. Hoërskool Punt wil elke leerder sterkte toewens vir die res van die akademiese jaar."
Sosiale distansieëring: Me C Nell (ouer), me K van den Berg (onderwyseres) en me L Pelser (onderwyseres). Foto: Me A Odendaal
Klasgee sal nooit weer dieselfde wees nie. Meneer F van As in sy klas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'