MOSSELBAAI NUUS - Sommige ouers van matrieks, wat vanjaar se Matriekbaai op Mosselbaai wil bywoon, het by die Mossel Bay Advertiser gekla oor 'n tekort aan privaat behuising vir hulle kinders.
Matriekbaai vind van 1 tot 10 Desember plaas. Die hooffeesterrein is in die parkeerterrein by die strandfront voor die Diaz Hotel en vanjaar behoort Santosstrand moontlik addisioneel as nog 'n terrein aan te sluit.
Volgens 'n anonieme ma van 'n matriekleerder van Mosselbaai, weier agente om huise of woonstelle te verhuur wanneer hulle hoor dat dit vir matriekleerders is. Die ouer het 'n stemnota van 'n agent aan die Advertiser gestuur waarin die agent sê dat hulle verkies om nie akkomodasie aan matrieks beskikbaar te stel nie.
Matriekbaai bied wel verblyf vir die matrieks by die ATKV kampterrein aan. Een blok van die kampterrein word spesifiek vir matrieks uiteengesit. Daar is ook verblyf by die Diaz Hotel beskikbaar.
Die ouer sê: "Ons is al sedert April op soek na verblyf, maar dit blyk onmoontlik te wees. Talle plekke word geadverteer, maar sodra jy noem dis vir matrieks wat kom na Matriekbaai, weier eienaars of agente sumier en sê dis nie beskikbaar vir matrieks nie. Een agent het beweer dat daar verlede jaar té veel skade aangerig is en dat daar oral vandalisme plaasgevind het."
Organiseerder van Matriekbaai, Lian Fourie, sê naas die verblyf by die kampterrein wat hulle beskikbaar het, is behuising nie Matriekbaai se verantwoordelikheid nie. "Ons kan niemand dwing om hulle plek te verhuur nie. Die geleentheid is wel daar vir inwoners van Mosselbaai om geld te maak en hulle wonings te verhuur."
Fourie sê die meeste matrieks maak van die kampterrein gebruik. "Dit is 'n praktiese oplossing. Daar is sekuriteit en badkamers en dit is boonop ook goedkoper as ander verblyf. Groepe kan saam kuier en daar is 'n lekker atmosfeer."
Fourie sê hulle vertrou die ATKV en is dan gerus dat matrieks nie met skyn behuising verneuk word nie. "Daar is ook 'n taxi-stelsel vanaf die kampterrein na die feesterrein sodat besoekers nie hoef te drink en bestuur nie."
Ekonomiese inspuiting
Mosselbaai-munisipale woordvoerder, Cornelle Carstens, sê verblyf in Mosselbaai is gesog, veral gedurende die somermaande en dikwels word vakansieverblyf tydens die spitsseisoen vir tot 12 maande vooruit bespreek. "Die verhuring van vakansie-eiendom berus op vraag en aanbod en dikwels oorskrei die vraag die aanbod."
Carstens sê die Mosselbaai-munisipaliteit verwelkom geleenthede soos Matriekbaai wat, soos in 2022, die spitsvakansie-seisoen noemenswaardig verleng.
"Die munisipaliteit beywer homself daarvoor om deur die skep van geleenthede, onder meer die Sport- en Rekreasiefees en die Mosselbaai Kunstefees, wat gedurende stiller maande aangebied word, stukrag aan die plaaslike ekonomie te gee."
Sy sê wat vakansieverblyf betref, is dit 'n welbekende feit dat vakansiegangers jaar na jaar terugkeer, dikwels na dieselfde verblyffasiliteite binne die groter Mosselbaai, juis omdat daar in baie gevalle 'n wedersydse vertrouensverhouding tussen verhuurder en huurder gevestig is.
"Die eerste Matriekbaai-geleentheid op Mosselbaai is oorweldigend positief ontvang en volgens terugvoering, was daar bykans dadelik na afloop van die geleentheid, talle nuwe besprekings vir 2023 se opskop. Dit beteken uit die aard van die saak goeie nuus vir die plaaslike ekonomie.
"Ná die verpletterende effek van die Covid-19-inperkings op die toerismedryf, is dit vir die munisipaliteit verblydend dat 'n oplewing soos meegebring deur onder meer Matriekbaai, plaaslike ekonomiese groei bevorder."
Gastehuisgilde
Louis Cook van die Mosselbaai Gastehuisgilde sê gastehuise maak selde indien ooit gebruik van agente om hul akkomodasie te verhuur, agente verhuur gewoonlik vakansieakkomodasie.
"Die 30 plus lede van die Mosselbaai Gastehuisgilde is geensins daarteen om van die matrieks te huisves nie, inteendeel daar is van die instansies wat hulle sal verwelkom. Besprekings by die gastehuise word deur middel van "soekenjins" of direk by die gastehuise gedoen. Besorgde ouers kan gerus Mosselbaai Toerisme vir akkomodasie kontak."
Mosselbaai Toerisme se Lieschke Steven-Jennings sê hulle rig 'n versoek tot inwoners wat wel van vakansieverhurings gebruik maak, en bereid is om aan matrieks te verhuur, om die opsie te oorweeg. "Ons is dankbaar vir wat Matriekbaai vir Mosselbaai Toerisme beteken."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’