MOSSELBAAI NUUS - ’n Matriekleerder van Mosselbaai is in groot moeilikheid ná sy vanoggend, 6 Oktober, haar ma ’n poets, wat glo tans op TikTok die ronde doen, probeer bak het.
Die ma, Anneke Steenkamp, werk in George en was juis daar toe sy boodskappe en foto’s van haar dogter ontvang het van wat gelyk het soos ’n vreemde man in hul huis.
Steenkamp vertel dat sy reeds vroeër onrustig was, aangesien hul huisalarm omstreeks 03:00 vanoggend afgegaan het.
“Toe ek die boodskappe sien, was ek onmiddellik paniekerig. Ek is 45 tot 50 minute weg, haar pa is op pad oorsee… Jy dink net: ek moet nóú iets doen,” sê sy.
Sy het onmiddellik ’n vriend gebel, daarna haar ma in Mosselbaai, en besef dat die buurtwag die vinnigste manier sou wees om hulp te ontbied. Buurtwaglede, sekuriteitspersoneel en die polisie het onmiddellik op die noodroep gereageer.
Teen die tyd wat Steenkamp weer met haar dogter kon praat, het haar lugtyd opgeraak.
“Toe ek haar uiteindelik in die hande kry, sê sy vir my dit was net ’n TikTok-poets. Die foto’s was deur kunsmatige intelligensie [KI] gegenereer. Van haar vriende het glo dieselfde poets op hul ouers probeer,” sê Steenkamp.
“Needless to say, jy kan dink watter taal daar toe uitgekom het...!” voeg sy met ’n lag van verligting (en frustrasie) by.
Sy sê haar aanvanklike paniek het vinnig in woede verander. “My dogter wou weet of ek nie kon sien dis KI-foto’s nie, maar in daardie oomblik is dit die laaste ding waaraan jy dink. My ma het haar die leviete voorgelees toe sy daar aankom - en ek ook.”
As straf is die leerder gehok tot ná die laaste dag van haar matriekeksamen. Geen maats mag by haar kuier nie, sy moet TikTok van haar foon verwyder, en sy moes ’n video maak waarin sy om verskoning vra, erken dat haar poets onverantwoordelik was en dat sy ’n groot fout gemaak het, en ook almal bedank wat so vinnig gereageer het en die situasie professioneel hanteer het.
Volgens Steenkamp het haar dogter ook erken: “Ek het nie gedink dat my ma dit ernstig sou opneem nie - anders sou ek dit nie gedoen het nie.”
Steenkamp sê sy het besluit om die video nie publiek te maak nie, aangesien haar dogter opreg jammer is en reeds ’n duur les geleer het. “My fokus is nou om te verseker dat sy die werklike impak van haar optrede verstaan - asook die belangrikheid van eerlikheid en verantwoordelikheid.”
Sy het intussen al die betrokke partye vir hul vinnige reaksie en die respekvolle manier waarop hulle die situasie hanteer het, bedank. “Ek is regtig dankbaar vir elkeen wat gereageer het en met soveel begrip opgetree het, selfs nadat hulle gehoor het dit was ’n poets,” sê Steenkamp.
Die Bo-dorp Buurtwag het gesê hy ondersoek die omstandighede wat gelei het tot die vals alarm en dat hy die aangeleentheid in ’n baie ernstige lig beskou. “Ons bedank egter die Bo-dorp-patrollielede, inwoners, die JOC, SAPD en sekuriteitsmaatskappye wat almal baie vinnig op die oproep tot hulp gereageer het.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’