MOSSELBAAI NUUS - Dis nie aldag dat 'n mens soveel maande voor Kersfees kan reken daarop dat jou wenslysie bewaarheid word nie. Dít was egter wel die geval vandeesweek toe die ACVV Kenani se beskermende werkswinkel 'n welkome skenking ontvang het van die Ulysses-motorfietsklub.
Die klub het op Woensdag, 18 April met brullende motorfietse opgedaag by Kenani onder talle bewonderende oë van die omstanders.
"Julle sal seker dink ons is nie lede van 'n motorfietsklub nie, maar eerder Vader Kersfees, want elke keer as julle ons sien, bring ons geskenke saam," het die president van die klub, Eddie Boshoff ewe tong in die kies tydens die oorhandiging gesê.
Susan Boshoff, bestuurder van die sentrum het die klublede bedank en gesê dat Kenani, ten spyte van elke lid, inwoner en personeellid se agtergrond, soos een groot familie is.
"Julle het ook so stil-stil deel van ons familie geword en diep in ons harte gekruip," het sy tydens haar bedanking aan die klublede gesê. Dié opregte woorde het van die manne en vroue in leer merkbaar geraak.
Boshoff het verduidelik dat die klub haar gevra het om 'n wenslysie op te stel van benodigdhede vir die beskermende werkswinkel. Goedere wat gebruik kan word vir die handwerk wat die gestremde persone as deel van hulle program verrig, ter waarde van R10 000 is aangekoop.
President van die Ulysess-motorfietsklub, Eddie Boshoff skud blad met Susan Boshoff, bestuurder van Kenani tydens die klub se oorhandiging van materiaal wat deur die persone met gestremdhede gebruik word vir handwerk. Paul Erasmus, woordvoerder (links) en ander lede van die klub kyk toe, asook Kitty Eigelaar, stigterslid van Kenani, langs Boshoff. Foto: Cornelle Carstens
Die eregaste tydens die oorhandiging was die persone met gestremdhede wat deel van Kenani se "familie" en inwonend op die perseel is. Met die aanskou van die sakke vol wol, kwaste, verf en ander benodidighede, was daar geensins 'n tekort aan glimlagte op die gesigte te siene nie.
Volgens Paul Erasmus, woordvoerder van die Ulysses-motorfietsklub, is vandeesweek se skenking die derde wat die klub sedert die naweek gedoen het.
"Ons fokus op verskeie verdienstelike sake in die Tuinroete. So het ons die naweek ondersteuning deur middel van skenkings gebied aan twee voedingsprojekte in Plettenbergbaai en ook Knysna."
'n Skenking van die Ulysses-motorfietsklub is met ope arms deur Kenani ontvang.
Erasmus het gesê dat die fondse waarmee die skenkings gedoen word, uit die wins van die jaarlikse Whale Rally geneem word. "Danksy die goeie ondersteuning van die byeenkoms, kan ons nood help verlig."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'