MOSSELBAAI NUUS - ‘n Man wat by die aanhoudingselle van die Mosselbaai-polisiestasie ingebreek het, en daarna in hegtenis geneem is, is vanoggend dood in sy sel aangetref.
Polisiewoordvoerder ao Pieter Koekemoer sê die 51-jarige Shuan Benton het gisteraand kort na middernag deur die diefwering van die ontvangslokaal na die aanhoudingselle geklim.
Koekemoer sê polisiebeamptes het op Benton afgekom toe hy weer probeer uitklim het waar hy tussen die diefwering vasgesit het. Hy sê Benton se rede vir die voorval is onbekend.
Benton is na ‘n hospitaal op Mosselbaai geneem omdat hy in die proses snywonde opgedoen het. Hy is daarna deur die polisie in hegtenis geneem en in ‘n aanhoudingsel toegesluit.
Koekemoer sê ‘n selwag het vanoggend om 10uur op Benton afgekom waar hy hom met die verbande wat sy wonde toegehou het, gehang het. Hy sê Benton het nog gelewe maar is kort daarna deur nooddienspersoneel doodverklaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'