Update
MOSSELBAAI NUUSFLITS - Die man wat daaraan skuldig bevind is dat hy ‘n boer van Hartenbos vermoor het, die 35-jarige Lamlani Booi het vandag sy vonnis in die Mosselbaai Hooggeregshof emosieloos aangehoor.
Die 54-jarige Freddie Tolman is in Desember 2014 twee keer op sy plaas, Outeniquabosch geskiet.
Hoewel daar minstens ses verdagtes betrokke was, is slegs Booi vir die misdryf vasgetrek.
Regter Robert Henney het tydens sy vonnisoplegging aan Booi gesê dat plaasaanvalle in die land toeneem en dat dié tipe misdaad die swaarste straf verdien.
Booi is lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moord op Tolman.
Hy is ook 15 jaar gevangenisstraf opgelê vir die kaping van ‘n voertuig kort na die moord en is 'n verdere 15 jaar gevangenisstraf opgelê op ‘n aanklag van roof met verswarende omstandighede nadat die Mosselbaai Gholfklub in 2015 beroof is.
Booi is ook vier jaar gevangenisstraf opgelê vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
Henney het die moord beskryf as ‘n goed beplande aanval op ‘n sagte teiken.
Hy het Booi as harteloos beskryf en het gesê hy is nie van mening dat Booi rehabiliteerbaar is nie.
Minstens 50 boere van die omgewing het die hofsitting bygewoon.
Lees 'n vorige artikel: Plaasmoord: man skuldig op 5 aanklagte
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
Lees meer in Vrydag se Mossel Bay Advertiser, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'