Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Paar dae ná die bynaverdrinkingsvoorval van die 18-jarige Monisha Francis by Souwesia tussen Suiderkruis en Tergniet op Saterdag, 27 Januarie, het 'n 31-jarige man omstreeks 12:00 op Sondag, 4 Februarie, in dié omgewing verdink.
Polisiewoordvoerder, sersant Laurianne Botha, het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat gesinne van Blanco dié dag by Souwesia deurgebring het toe die voorval plaasgevind het.
Volgens inligting het die 31-jarige Claudio Williams van Blanco in George, in die moeilikheid beland, waarna 'n 26-jarige man ingegaan het om hom te help. Williams was egter reeds agter die branders.
Die 26-jarige man het ongedeerd uitgekom. NSRI Mosselbaai se diensbemanning, NSRIreddingswemmers, Wes-Kaap EMS, Mosselbaai Brand- en Reddingsdiens, die SA Polisiediens en By Grace ambulansdiens is geaktiveer.
Terwyl hulle reageer het, is bevestig dat twee mans uit die water was. By Grace-paramedici en EMS-paramedici het al hul pogings aangewend om Williams te probeer red, maar hy is op die toneel dood verklaar. Die familie is genader maar wou geen kommentaar lewer nie.
Met verskeie voorvalle van amperverdrinkings en dié verdrinking die afgelope tyd, is dit van uiterste belang dat die see nie gesien moet word as 'n speelplek nie. Die blouvlagseisoen het op 31 Januarie afgesluit en lewensredders se dienste op strande is gestaak.
Van Februarie doen lewensredders van verskillende klubs op vrywillige basis diens op Saterdae en Sondae tussen sekere tye.
Souwesia is egter 'n gevaarlike swemstrand met baie sleurstrome (rip currents). Besorgde inwoners het al voorstelle gemaak dat geen swem inligtingsborde by elke voetpaadjie na dié strandgebied aangebring moet word.
Die komende naweek sal die springgety weer uiterstes stel met baie lae laagwatervlakke en hoë hoogwaters.
Dit sal ook gepaard gaan met verraderlike sleurstrome. Die publiek word daaraan herinner om versigtig te wees wanneer hulle swem. Veral in die afwesigheid van lewensredders en terwyl van Mosselbaai se warmste somerdae nog voorlê. Dit is belangrik om altyd bedag te wees op die omgewing en die weerstoestande en jou persoonlike swemvaardigheid moet in ag geneem word wanneer jy in die see gaan.
Neem die nodige voorsorgsmaatreëls en wees bedag op potensiële gevare om 'n veilige en aangename ervaring te verseker. Veranderende weerstoestande, soos sterk wind en storms, kan 'n impak op die see hê. Om alleen te swem kan gevaarlik wees, veral as daar 'n noodsituasie ontstaan.
Skerp rotsklippe en ander voorwerpe onder die water kan ook 'n bedreiging vir swemmers inhou. Hou altyd die seetoestande dop en wees bewus van strome en golwe. Moet nie in gebiede swem waar daar waarskuwings of verbode tekens is nie.
Vorige artikel: Man verdrink by Souwesia
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’