MOSSELBAAI - 'n Man wat deur die polisie op Mosselbaai gesoek is in verband met klagtes van bedrog by 'n besigheid op Groot-Brakrivier, Malcolm Leonard (57) is in Port Elizabeth vasgetrek.
Die polisie vermoed dat Leonard soortgelyke bedrog op verskeie dorpe in die Wes-Kaap gepleeg het.
Leonard het na bewering onder die besigheidnaam, Master Trailers geadverteer dat hy sleepwaens verkoop en herstel.
Hy het voornemende kliënte 'n deposito gevra, maar het nooit die eindproduk gelewer of die deposito terugbetaal nie. Verskeie bedrogsake is reeds by die polisie teen Leonard aanhangig gemaak. In Port Elizabeth het Leonard verlede week in die hof verskyn op drie aanklagte wat verband hou met soortgelyke sake.
Die vermoede bestaan dat Leonard bedrog van meer as R100 000 gepleeg het.
Volgens die polisie het Leonard ook bedrog gepleeg in Vioolsdrift in 2016 en in Port Elizabeth het hy slagoffers van minstens R45 000 besteel. Hy is by 'n huis in Kabegapark in hegtenis geneem en moet weer op 24 Maart in die landdroshof op Port Elizabeth verskyn. Polisiewoordvoerder, kapt Sandra Janse van Rensburg sê Leonard se modus operandi was om op aanlynverkoopsplatforms soos Gumtree en OLX te adverteer dat hy sleepwaens verkoop en herstel. "Sy prys was gewoonlik R15 000 per sleepwa. Hy het kontak gemaak met voornemende kliënte en versoek dat 'n deposito betaal word waarna die uitstaande bedrag verhaal sou word met die voltooing van sy werk." Janse Van Rensburg sê Leonard het dan met die geld verdwyn.
Slagoffers wat deur Leonard ingeloop is word versoek om die KwaNonqaba-polisie se ondersoekbeampte, sers Rudi Swanepoel te kontak (082 488 0536 of 044 606 5600).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'