Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Marc Liebenberg (35) was Sondag, 12 Februarie te voet op pad Danabaai toe op die St Blaize-staproete, toe sy waterbottel uit sy hand geval en hy in die proses om dit te vang, deur die gewig van sy rugsak oor die afgrond getrek is.
Die Mossel Bay Advertiser het berig dat twee Duitse toeriste, Gustav en Mari Nagel, sy noodkrete laatmiddag gehoor het toe hulle op die roete gestap het. Hulle het die noodnommer 112 gebel en die Mosselbaai-nooddienste was vinnig op die toneel om die man te help.
Die Advertiser het Woensdag, 1 Maart met Marc gesels nadat hy vir drie weke in die George hospitaal behandel is vir 'n vergruiste enkel, 'n LI werwel wat gebreek het, 'n gebreekte sleutelbeen en 'n harde hou teen die kop waarvoor hy steke moes kry.
Wag agt uur vir hulp
Marc het die oggend net na 09:00 op sy horlosie gekyk en kort daarna sy balans verloor en geval.
"Ek is opgelei as 'n eerstehulp-instrukteur en het met die val my lyf slap gemaak. Ek het later my bewussyn herwin en besef dat niemand my tussen die bosse sou sien nie. Ek het uitgekruip na 'n oop area. My horlosie het 'n fluitjie en ek het gereeld op dit geblaas om aandag te trek."
Volgens Marc het hy later sy slaapsak uit sy rugsak gewoel en oor homself gegooi om te help teen die son en dehidrasie. Hy kan glad nie onthou dat hy om hulp geroep het nie. "Ek het wakker geskrik toe 'n tou van die paramedikus my getref het. Hy het my hand gegryp en gesê: Boet, ons is hier. Just hold on, we are here."
Marc sê die paramedikus het gesê hy moet afkyk en toe sien hy vier NSRI-bote wat onder in die see wag om na sy liggaam te soek. "Dit is net God se genade dat ek hier is. Die behandeling wat ek by die George hospitaal gekry het, was baie professioneel. Oor ses weke behoort ek weer te loop."
Marc Liebenberg (35) in die parkeerterrein by die George hospitaal. Hy bly tans in 'n nagskuiling in George. Foto's: Alet Engelbrecht
Moeilike lewe
Marc het 'n pynlike paar jaar agter die rug. Sy biologiese ouers was albei alkoholiste en hy is op ses weke ouderdom aangeneem en het in George groot geword. Sy vrou is twee jaar gelede oorlede en hy het homself daarna vir ses maande aan drank oorgegee.
Daarna het hy in die berg naby George gebly waar hy en ander haweloses kunstige artikels gemaak het uit dryfhout wat hulle verkoop het vir 'n inkomste. Marc vertel: "Ons is daar weggejaag met die CID wat gedreig het om ons hande te breek sodat ons nie ons kunswerke kon maak nie."
Mossel Bay Advertiser het vermoed dat Marc een van die mense was wat in die grotte onder by St Blaize gebly het. Ek wou by Marc weet hoekom hulle daar gaan bly het.
"Die dorp is nie veilig nie. In die nag kom die gangsters na die dorp toe. Die CID en wetstoepasser-ouens jaag ons rond, spuit ons met pepergas en hou messe teen ons kele. Ons goed word in stukke gebreek en verbrand. Ons het besluit dis veiliger om in die grotte te bly waar ons kuns gemaak het en dit probeer verkoop het.
"As ons na die shelter toe gaan, sê hulle daar is nie plek nie. Die publiek mishandel ons. Daar is baie van ons wat gehelp wil word. Ek het 'n tienjarige seun wat in Mosselbaai bly. Al wat ons nodig het, is 'n kans."
VIDEO - Marc Liebenberg oorleef val op St Blaize roete:
VIDEO - Marc Liebenberg vertel verder van sy ontberinge:
VIDEO - Marc Liebenberg vertel van sy ontberinge om op straat te oorleef:
VIDEO - Marc Liebenberg vertel wat verkeerd geloop het en hoekom hy op straat beland het:
VIDEO - Marc Liebenberg vertel van die moontlikhede as hulle gehelp word:
VIDEO - Marc Liebenberg het sy bed opgegee vir die slagoffers van die busbom:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'