TUINROETE|HESSEQUA NUUS - Wat doen of sê mens as jy op 'n toneel afkom of in 'n situasie is waar 'n familielid, vriend of vreemdeling dreig om hul lewe te beëindig?
Emile Meyer, besigheidman van Mosselbaai, het Maandag, 14 September soos enige ander dag sy werk gedoen. Hy was op die N2 onderweg tussen Mosselbaai en Albertinia.
Toe hy die Gouritsrivierbrug nader, het hy 'n man in die pad opgemerk wat beduie dat hy moet stop.
"Toe ek stilhou het die man gesê dat daar 'n vrou is wat van die brug af wil spring. Hy (die man) het toe in sy kar geklim en weggery," vertel Meyer.
Volgens Meyer het die vrou se voertuig langs die N2 gestaan en het sy na die brugreling gestap om daar af te spring. "Dinge het so vinnig gebeur. Ek het haar gevra hoekom sy dit wil doen waarop sy geantwoord het 'seun los my uit'."
Meyer sê hy het met haar gepraat en vir haar gesê dat die Here haar lief het en dat sy nie moet spring nie.
"Sy het vir my gesê dat sy 'n seun het en dat haar man twee jaar gelede oorlede is en sy nie 'n begunstigde van sy boedel is nie. Ek was baie geskok want sy wou net spring en het vir my gesê ek moet haar uitlos, sy wil klaarmaak. Ek het haar gegryp en vasgehou. Sy het gestoei om los te kom. Ek het haar vasgedruk en haar gevra waar haar motorsleutel is, wat sy nie vir my wou gee nie," vertel Meyer.
Hulp ontbied
Meyer het 'n vriend, die verkeersbeampte Danie Jansen van Rensburg geskakel.
"Ek het Emile nog nooit so paniekerig oor 'n telefoon gehoor nie. Ek het dadelik my kollegas wat aan diens is gekontak asook ander nooddienste wat hul na die toneel gehaas het," het Jansen van Rensburg aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Meyer sê hy het vir bykans 'n halfuur in die koue gespook om die vrou vas te hou. "Sy het later haar motorsleutel vir my gegee en het ek haar met moeite tot binne-in haar kar gekry." Hy het probeer verhoed dat sy weer uit die voertuig klim.
"Kaptein Botha en 'n kollega van die Albertinia-polisie het opgedaag en die situasie verder hanteer," vertel Meyer. Kort op hulle hakke was nog polisie- en verkeersbeamptes asook By Grace-ambulansdiens. Die vrou (49) is per ambulans na die Mosselbaai provinsiale hospitaal.
Volgens Meyer het die vrou aan die polisie erken dat sy pille ook gedrink het. "Ek was daardie aand erg getraumatiseerd deur die voorval. Ek kon myself nie indink om te moes sien hoe die vrou oor die brugreling spring nie."
Ken die tekens
Dikwels oorweeg mense selfdood omdat hulle in 'n situasie is waar hul lewensomstandighede oorweldigend raak.
Familie en vriende kan egter selfmoordneigings identifiseer.
Dit is krities om vir so 'n persoon professionele hulp te kry. 'n Persoon wat selfmoordneigings het sal dinge sê wat mens nie ligtelik moet opneem nie. Stelling soos - die lewe is nie die moeite werd nie, ek kan nie alles hanteer nie, die lewe is te moeilik, niemand verstaan my of voel soos ek nie - is maar enkele voorbeelde.
Maar as jy egter in die situasie beland waarin Emile Meyer was, wat doen, sê en vra mens so 'n persoon?
Volgens kenners is daar nie 'n vasgestelde formule nie. Die beste is om dadelik hulp te ontbied deur 'n krisislyn of nooddienste te kontak. Wees empaties en laat die persoon die meeste van die praatwerk doen. Skep 'n gevoel van hoop deur behandeling voor te stel.
Vrae wat jy kan vra is - vertel my meer oor jouself; het jy 'n gesin; is daar op die oomblik goed in jou lewe wat vir jou baie sleg is; wie of wat het jou seergemaak. Hierdie is slegs voorbeelde en die situasie gaan in elke geval anders wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'