MOSSELBAAI NUUS - Verkeer is ontwrig vroeër vandag toe die polisie op Mosselbaai ‘n 30-jarige man tydens ‘n wilde jaagtog in die middedorp aangekeer het.
Die man het volgens inligting ‘n geskil oor uitstaande betaling met ‘n persoon in George gehad wat op ‘n ernstige struweling uitgeloop het. Na wat verneem word, is die slagoffer ernstig beseer tydens die voorval.
Hierna het die 30-jarige man glo in die slagoffer se wit Isuzu-bakkie gespring en van die toneel weggejaag in die rigting van Mosselbaai.
Lede van die polisie se misdaadvoorkomingseenheid op George het die voertuig wat teen ‘n hoë snelheid beweeg het op die N2-snelweg gesien en het versterkings ingeroep.
Verskeie padblokkades is onderweg na en in Mosselbaai opgestel om die man aan te keer, maar hy het daarin geslaag om die polisie te ontduik.
Hy is egter in Marshstraat Mosselbaai deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem.
Die man is tans in aanhouding in die Da Gamaskop-polisiestasie se selle en hy sal later vandeesweek voor die hof gebring word.
Volgens die woordvoerder van die Da Gamaskop-polisie, kapt Wollie Fourie staan die man tereg op ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur, asook poging tot moord.
Hierdie klagte is samelopend met dié wat reeds in George aanhanging gemaak vanweë die beweerde aanranding vroeër vandag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'