MOSSELBAAI NUUS - Die Groot Brakriver-polisie het 'n dossier geopen nadat 'n polisievoertuig op Dinsdag, 22 November, op pad terug van die Mosselbaai-landdroshof deur 'n motor op die N2 naby Klein Brak van die pad gedwing is.
Die polisielede het die motor agtervolg en in Fraaiuitsig die sirene aangesit, maar die motor wou nie stop nie.
Volgens sersant Lauriane Botha, kommunikasiebeampte van die Groot-Brakrivier-polisiestasie het die motor later gestop. "Die bestuurder het uit die motor geklim en woedend gereageer. 'n Worsteling het tussen die polisielid wat bestuur het en die verdagte ontstaan. Die ander polisielid het aan die passasierskant uitgeklim en voor die verdagte se motor gestaan. "Na bewering het die verdagte terug in sy voertuig geklim en vorentoe gery.
Die polisielid is raakgery en het neergeval, waarna die verdagte persoon van die toneel weggejaag het." Die polisielid is vir beserings aan sy onderbene behandel.
Sers Botha versoek enige lid van die publiek met inligting om sers Wesley Louw te kontak by 082 522 2807 of 044 620 8304/5.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'