MOSSELBAAI NUUS - 'n Verdagte is in hegtenis geneem kort nadat 'n bejaarde inwoner op Dinsdag, 3 April in sy huis in Ryk Tulbachstraat in Da Nova aangeval en beroof is.
Volgens die Mosselbaai-polisiewoordvoerder, ao Pieter Koekemoer is die slagoffer met 'n stomp voorwerp aangerand en het hy kopbeserings opgedoen.
Die voorval het om ongeveer 07:30 gebeur. 'n Op en wakker buurman het die verdagte by die erf met gesteelde goedere sien uithardloop en 'n boodskap op die plaaslike buurtwag WhatsApp-groep gelos. Die sekuriteitsmaatskappy, ADT was binne drie minute op die toneel waarna die Mosselbaai-polisie en die provinsiale verkeer oor die voorval ingelig is.
"Provinsiale verkeer het die verdagte in die Da Gamaskop-gebied gesien en die polisie verwittig waarna ao Amanda Lordon, tesame met twee verkeersbeamptes, Maronette van Emmenes en Wimar van den Berg die verdagte genader het. Hulle het die verdagte toe vir ondervraging na die polisiekantoor geneem. Na verdere ondersoek is die verdagte in hegtenis geneem en na die Mosselbaai-polisiestasie se aanhoudingselle geneem.
"Ons bedank almal wat as 'n span saamgewerk het om die verdagte vas te trek," sê ao Koekemoer. Die slagoffer is in 'n plaaslike hospitaal vir sy beserings behandel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'