MOSSELBAAI NUUS - Veereiers (Bulbulcus ibis), ook bekend as bosluisvoëls en in Engels Western cattle egrets, het die afgelope paar jaar groot omstredenheid in Mosselbaai se munisipale area meegebring.
Hierdie voëls versamel vanaf Augustus tot September in groot getalle op soek na broeiplek. Hul broeityd is vanaf Oktober tot Desember en hulle vorm broeikolonies van tot 10 000 pare.
Hulle voorkeur om in hoë bome nes te maak lei tot baie geraas en gemors in woongebiede. Weens hul dieet van eko-parasiete en insekte, is hulle ontlasting skadelik vir die bome waarin hulle nesmaak.
Hulle beweeg gewoonlik saam met beeste en eet die insekte wat die diere opjaag, asook bosluise en soms selfs van die beeste se ontlasting. Die bome gaan dood en moet dan afgesaag word.
Dit is altyd emosioneel wanneer 'n boom, soos onlangs in Marshstraat weens die voëls se teenwoordigheid verwyder moet word.
Kuikens wat hulself doodval uit die neste veroorsaak ook onhigiëniese toestande wat brommers lok en onaangename reuke veroorsaak.
'n Veereier (Bulbulcus Ibis), ook bekend as 'n bosluisvoël en in Engels 'Western cattle egrets'.
Volgens wet mag die voëls nie verjaag word as hulle eers begin nesmaak het nie en daarom is voorkomende beheer noodsaaklik.
Aangesien die voëls in die volgende paar weke gaan begin opdaag om broeiplek te soek, is dit belangrik dat die publiek op die uitkyk sal wees vir die voëls.
Indien hulle in bome gaan sit, moet hulle so gou as moontlik verjaag word en die maklikste metode is om geraas te maak deur byvoorbeeld op 'n metaal voorwerp te slaan of op 'n fluitjie te blaas. 'n Harde stok op 'n blik of staal asdromdeksel werk goed.
Dit is ook belangrik om die boom die volgende oggend skoon te maak, en enige teken van nesmaak te verwyder. Indien die voëls gewaar word, kan die parke afdeling van die Mosselbaai-munisipaliteit ook gekontak word (044 606 5000).
ARTIKEL: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'