Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die vyf begunstigdes wat op Vrydag, 2 Oktober ontvangs geneem het van hulle nuwe huise in Sonskynvallei, is die eerstes wat deel vorm van 'n nuwe geïntegreede behuisingsplan.
Tydens die oorhandiging het Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers verduidelik dat die projek, bekend as die Integrated Residential Development Programme (IRDP), se doel tweeledig is.
Volgens Simmers is die doel om 'n heenkome aan agterplaasbewoners in Sonskynvallei te bied, maar ook om die inwoners van Powertown te hervestig.
Hy het opnuut beklemtoon waarom dit nie haalbaar is om behuising in Powertown, wat in 'n vloedvlakte geleë is, te ontwikkel nie.
Fase 3 van die ontwikkeling waar begunstigdes Vrydag gevestig is, sal uiteindelik uit 96 huise en 616 gedienste erwe bestaan. Die ontwikkeling het R35 miljoen gekos.
Fotogalery: Eerste nuwe intrekkers in Sonskynvallei se fase 3 verwelkom.
"Die eerste inwoners wat vandag intrek is deel van 'n veel groter prentjie. Die IRDP integreer kwalifiserende begunstigdes van verskeie agtergronde op so 'n manier dat, 26 jaar na die demokratiese dispensasie, ons in ons munisipale en provinsiale beplanning uiteindelik die realiteit vir 'n reënboognasie skep."
Kyk 'n video hieronder:
Simmers het genoem dat infrastruktuur soos huise, geteerde paaie, gemeenskapsale, klinieke en dies meer, die tasbare nalatenskap van ware dienslewering is. Etlike van die onbewoonde huise in die nuwe ontwikkeling wat nog nie toegeken is nie, se ruite is egter stukkend gegooi en krane is verwyder.
Die Da Gamaskop-polisie het onlangs versoek dat die gemeenskap van Sonskynvallei inligting verskaf aangaande vandale wat huise in die nuwe uitbreiding verniel.
In die lig van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika, het Simmers gepleit dat die begunstigdes die basiese beginsels van 'n gesonde gemeenskap deel van hul huishoudings te maak. "U het 'n huis gekry. Maak dit nou 'n woning."
Patricia May wat Vrydag haar huis ontvang het, het die Powertowners aangemoedig om nie langer vas te skop om na Sonskynvallei te trek nie. "Ek ken swaarkry en weet wat sukkel is. Ek het nat gesit in my bungalow. Ek gun enigiemand om hier in Sonskynvallei te kom woon."
Patricia May (links) teken ontvangs van haar nuwe huis in Sonskynvallei. By haar is Emsha Frans.
Vorige artikel: Vreugde toe huis oorhandig word
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'