MOSSELBAAI NUUS - Daar is 'n enorme behoefte om veilige speelruimte vir die sowat 1 500 leerders van die Garden Route Primêre Skool in Aslapark te skep.
Een man, Jurgens Bosman van VE Reticulation, het reageer op 'n versoek deur die Mosselbaai-munisipaliteit aan plaaslike groot besighede om betrokke te raak om letterlik die speelveld vir die leerders gelyk te maak.
Bosman het onderneem om leiding te neem en ander groot besighede te nader om gesamentlik, korporatief betrokke te raak om 'n bate te skep van grond wat tans onbenut lê.
Bosman, die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en senior munisipale personeel het onlangs saam met die skoolhoof, mnr Nicolas Gertse die probleme wat die skool ondervind bespreek.
Dié skool, wat aanvanklik deur PetroSA opgerig is om voorsiening te maak vir 800 leerders, bars behoorlik uit sy nate en maak reeds van tydelike klaskamers gebruik om in die behoefte vir meer ruimte voorsiening te maak.
Die skool is die enigste Afrikaans-medium laerskool in Aslapark en bedien een van die armste gemeenskappe in Mosselbaai.
Terrein onvanpas
Oënskynlik het die skool heelwat oop ruimte rondom die klaskamers en administratiewe area, tog blyk dit gou waarom dit onvanpas, selfs gevaarlik is om leerders toe te laat om pouses hier deur te bring.
Groot rotse en klippe lei tot beserings en misdadigers maak van die terrein agter die skool 'n uithangplek, met gevolglike risiko's.
Die 1 500 leerders is aangewese op geteerde speelvlakke binne die skoolkern.
Dit gebeur telkens dat die skoolhoof met leerders, selfs leerkragte na 'n plaaslike hospitaal moet haas wanneer beserings opgedoen word.
Die skoolhoof het die munisipaliteit om hulp genader, maar wetgewing verbied die munisipaliteit om uitgawes aan te gaan op grond wat nie munisipale eiendom is nie.
Die skoolhoof, mnr Nicolas Gertse (links) verduidelik aan die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee die omvang van die probleem. Die uitvoerende bestuurder; strategiese dienste, mnr Colin Puren, en me Marika Thomatos, meen van die rotse kan ideaal deur landskapsargitekte of tuinsentrums benut word.
Advokaat Giliomee het gevolglik die uitvoerende bestuurder: strategiese dienste in sy kantoor, mnr Colin Puren gevra om plaaslike besighede en sakeluit te nader om betrokke te raak.
"Die jeug lê my na aan die hart, hulle is die volgende generasie leiers aan wie ons, ons toekoms moet toevertrou.
"Dit is ons plig om na hul behoeftes, ook om in veilige omstandighede net kind te wees en te speel, om te sien.
"Ek doen 'n beroep op Mosselbaaiers om betrokke te raak, om hand uit te steek na 'n behoeftige skool en 'n verskil in die lewens van hierdie kinders te maak," aldus raadsheer Levendal.
Die area wat in 'n veilige speelomgewing ontwikkel kan word, strek oor sowat 1,5 hektaar, maar is besaai met groot rotse en klip, en loop teen 'n matige helling skuins af.
Tog is dit ideaal om met die nodige vaardigheid ontwikkel te word omdat 'n behoorlike heining onlangs om hierdie gedeelte van die skoolerf opgerig is.
Enige persoon of instansie wat by hierdie projek betrokke wil raak, kan met mnr Puren (044 606 5000) skakel.
Tydens 'n onlangse terreininspeksie het mnr Jurgens Bosman (VEReticulation, links) onderneem om leiding te neem in 'n omvattende projek om 'n area van sowat 1.5 hektaar agter die Garden Route Primêre Skool in 'n veilige speelplek vir die leerders te omskep. Belangstellende sakelui en besighede word genooi om kundigheid, toerusting en befondsing beskikbaar te maak en by die projek aan te sluit.
ARTIKEL & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'