MOSSELBAAI NUUS - "Dit is 'n duidelike boodskap dat om gewelddadig te raak terwyl onder die invloed van sterk drank, geen verweer of verskoning is vir misdaad nie."
Só sê kaptein Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, nadat 'n veroordeelde moordenaar, Hondile Maneli (38) wat in Augustus 2018 'n vrou in die Albert Luthuli-woongebied noodlottige steekwonde toegedien het, 12 jaar gevangenisstraf opgelê is.
Die oorledene, Thandeka Teyise (32) het op 5 Augustus 2018 om 01:00 saam met familie en vriende gekuier in 'n woning in die woongebied, toe sy met Maneli in 'n woordewisseling betrokke geraak het.
Maneli het tot geweld oorgegaan en ten aanskoue van getuies, Teyise met 'n mes aangeval. Teyise het Maneli probeer ontvlug, maar is terwyl sy probeer wegkom het, verskeie steekwonde deur haar aanvaller toegedien.
Die ernstige beseerde Teyise is na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem vir mediese behandeling waar sy aan haar wonde beswyk het.
Die beskuldigde is later op dieselfde dag in sy woning in hegtenis geneem deur reservis-konstabel Deon Booysen. 'n Saak van moord is ondersoek deur kst Ayabonga Lolo van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Die saak het in die Mosselbaai-streekhof voorgekom waar die Maneli op 25 Februarie gevonnis is.
Die stasiebevelvoerder van die Da Gamaskop-polisie, kol Mark Hartzenberg, het die betrokke lede geluk gewens met hulle sukses.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'